Verken SA te voet dié Paasnaweek

Die Amatola-staproete, naby die dorpie Hogsback in die Oos-Kaap, is ʼn ongelooflike staptog. (Foto: Verskaf)

Daar was nog nooit ʼn beter tyd as dié Paasnaweek om jou stapskoene aan te trek en Suid-Afrika se natuurskoon te beleef nie.

Evan Sparks, medestigter en besturende direkteur van Afritrails, sê reisigers moet die laaste paar warm dae voor die winter benut en die paar openbare vakansiedae wat nou voorlê, is die ideale tyd hiervoor.

Hier is vyf roetes wat jy oor Paasnaweek kan verken:

Amatola-roete

Die Amatola-staproete, naby die dorpie Hogsback in die Oos-Kaap, is ʼn ongelooflike staptog wat oor die algemeen beskou word as een van die moeilikste maar beste staproetes in Suid-Afrika. Die roete van 100 km begin by die Madendam en eindig in Hogsback. Die staproete duur ses dae en vyf nagte, en jy kan elke aand veilig in ʼn hut slaap nadat jy ʼn gemiddeld van sewe uur per dag gestap het.

Die Amatola-ervaring is pasgemaak vir jou as jy ʼn natuurliefhebber is wat staproetes geniet. Jy stap deur die reënwoud, oor berge en verby watervalle, velde, poele en uitkykpunte.

Mosamane-roete

Die Mosamane-staproete is nie te moeilik nie. (Foto: Verskaf)

Die Mosamane-staproete is nie te moeilik nie. Volwassenes en kinders ouer as 12 jaar kan dit stap; dit is dus ʼn heerlike gesinsaktiwiteit.

Hierdie 8 km lange roete in die Vrystaat begin op die Beatrix-plaas naby Rosendal in ʼn omgeboude skuur waar stappers die nag of naweek kan deurbring.

Stappers sal deur grasvelde en dongas wandel, verby strome en watervalle wat oor rotse loop, met talle wilde blomme. Hierdie skaduryke roete sal terdeë geniet word deur almal wat saamstap.

Mphongolo-roete

Die Mphongolo-staproete is in die Krugerwildtuin geleë. (Foto: Verskaf)

Die Mphongolo-staproete is in die Krugerwildtuin geleë en die perfekte pasmaat vir gesoute rugsakreisigers. Die roete, wat by die Shingwedzi-kamp wegspring, kronkel deur die groot wildernisgebied tussen die Shingwedzi- en Mphongolo-rivier.

Die roete strek oor vier dae en drie nagte, sodat die stappers hul nagte in hierdie wildernisgebied kan deurbring sonder om die beperkings te hê om na die volgende punt te vorder of ’n vasgestelde roete te volg.

Daar word van gaste verwag om hul eie kamptoerusting en kos vir die duur van die roete te voorsien, aangesien daar geen oornaghutte op hierdie roete is nie.

Chokka-roete

Die Chokka-roete is ʼn staptog wat ʼn mens iets van alles bied. (Foto: Verskaf)

Die Chokka-roete is ʼn staptog wat ʼn mens iets van alles bied, langs die kus in die groter St. Francis-gebied (Oesterbaai, St. Francis en Kaap St. Francis) van die Oos-Kaap.

Op hierdie roete sal stappers in die voetpaadjies van vissers stap, oor viertrekvoertuie se spore, ʼn duineveld, kuswoud en talle ruigtes teëkom. Dít terwyl hulle die kuslyn rondom die suidoostelike punt van Afrika volg. Daarbenewens besoek stappers Port St. Francis, ʼn werkende hawe en die tuiste van die Chokka-vloot, waar hulle calamari kan proe, asook ʼn sonsondergangvaart op die beroemde St. Francis-kanale kan ervaar.

Die staptog duur vier dae en drie nagte en is ideaal vir beginners en ouer stappers. Dit word gelei deur die eienaar op dag twee, drie en vier, kos word voorsien en oordrag van bagasie word vir die staproete verskaf.

Basiskamp-roete

Stappers sal Suid-Afrika in al sy glorie op die Basiskamp-staproete ervaar. (Foto: Verskaf)

Die Basiskamp-staproete is in die Hluhluwe-iMfolozi Park, in KwaZulu-Natal, en is ʼn roete wat oor vier dae en drie nagte duur.

Stappers sal Suid-Afrika in al sy glorie ervaar. Jy kry die kans om in die Afrika-bos te slaap, in ʼn ongerepte wildernisgebied te stap en die geleentheid te hê om die Groot Vyf en ander wilde diere van naby te sien.

Stappers word deur ʼn gewapende roete-offisier en ’n veldwagter op die roete vergesel, wat hulle sal lei en beskerm, maar ook sorg dat hul ervaring allesomvattend is, aangesien hulle hul kennis oor die land en geskiedenis van die streek deel.

“Ons verwag dat baie reisigers gedurende die Paasfees die geleentheid sal gebruik om maande lange verbeurde reisgeleenthede te vergoed. Stappers moet dus nou al reisreëlings tref om te verhoed dat hulle die plekke wat hulle wil besoek, misloop,” sluit Sparks af.

Afri-Trails is ’n gesentraliseerde platform wat omvattende inligting en besprekings van oornagwandelroetes in Suid-Afrika bied, asook opsionele besprekings van bykomende dienste wat hierdie roetes van begin tot einde toegankliker maak.

Vir meer inligting oor hierdie en ander roetes, asook vir besprekings, besoek www.afritrails.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.