Kersfees in Colombia vir vervolgde Christene

Daniela ervaar ernstige vervolging weens haar geloof (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Die Salcedo-familie van Colombia in Suid-Amerika sal dié Kersfees ʼn leë sitplek aan hul tafel hê.

Daniela (12) behoort op haar jeugdige ouderdom geen bekommernisse te hê nie, maar sy het al van kindsbeen af op die harde manier geleer wat dit kos om Jesus te volg. Sy word, soos talle ander kinders reg oor die wêreld, weens haar ouers se geloof vervolg.

Sy het niksvermoedend in die straat naby haar ouerhuis in La Caucana gespeel toe sy twee geweerskote hoor wat haar lewe vir ewig verander het. Haar pa, pastoor Plinio, is skielik van haar weggeneem terwyl hy rustig in sy wiegstoel na die nuus gesit en kyk het.

Sy en haar ma, Alba, het skote hoor klap en die kamer binnegestorm. “Ons het ontdek dat hy net daar in sy stoel doodgeskiet is – hy het die hoogste prys betaal omdat hy Christus se liefde verkondig het in ’n gebied onder dwelmbendes se beheer,” vertel sy.

Skrikbewind deur dwelmbendes

Misdaad en wetteloosheid vier hoogty in Colombia weens die skrikbewind wat gewelddadige dwelmbendes en rebelle voer. Kwesbare jong kinders word gewerf om die misdadigers se vuilwerk vir hulle te doen. Dit kan in dié land gevaarlik wees om Jesus lief te hê en vir Hom te lewe, aangesien dit die dwelmbase se bedrywighede kortwiek.

Die moord op Daniela se pa was ʼn waarskuwing aan Christene dat hulle hul aktiwiteite, wat mense van hulle verslawings bevry en verhoed dat jongmense by die bendes betrokke raak, moet staak.

Alba, Daniela en haar boetie, Sebastian (5), woon nou tydelik in die stad Caucasia. Hierdie gebied is veiliger as La Caucana, maar selfs hier is daar baie geweld en word geweerskote gereeld gehoor.

Daniela sê sy mis haar pa die ergste gedurende die Kerstyd. “Kersfees is vir my ʼn tyd om by my gesin te wees en ons vier dit gewoonlik as gesin saam. Ons berei die kos saam voor en eet daarna almal saam. Ek glo dat Kersfees ʼn vreugdevolle tyd is om Jesus se geboorte te vier, so dis ʼn spesiale tyd vir my.”

Kersfeesvieringe saam met ander Christene

Daniela en haar boetie, Sebastian (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Verlede jaar het Daniela en haar gesin Kersfees by Geopende Deure se Kindersentrum in Colombia deurgebring. Hulle het danksy die ondersteuning van Geopende Deure se vennote vier weke by die sentrum gebly, waar hulle traumaberading ontvang het en Kersfees saam met ander Christene gevier het.

Daniela vertel: “Dit was wonderlik om uit die afsondering in ons gemeenskap weggeneem te word. Ek kon voel hoe dit is om net weer ʼn kind te wees en sorgeloos met ander Christen-kinders te speel, sonder die vrees van vervolging. Ek is dankbaar dat ander mense oral in die wêreld gedurende Kersfees vir ons gesin bid. Ek kan sien hoe die Here deur hierdie gebede werk en het geleer dat ons voortdurend op Hom moet vertrou.”

Broodnodige ondersteuning

Daarna het Geopende Deure gereël dat hulle na ’n veiliger plek verhuis. “Dit was slegs moontlik met behulp van ons ondersteuners se gebede en skenkings. Danksy julle hulp woon die gesin nou in ʼn nuwe huis in ʼn veiliger omgewing,” sê ’n veldwerker van Geopende Deure.

Geopende Deure help Christen-gesinne in Colombia met sielkundige en pastorale ondersteuning, finansiële hulp en lewensonderhoud, behuising en kinderopvoeding.

Die hoop van Kersfees

Jy kan help om die hoop van Kersfees en die geskenk van ’n veiliger toekoms aan vervolgde families soos Daniela s’n te bring. Enige geskenk wat jy vandag gee, sal help om in die langtermyn-behoeftes van vervolgde gesinne wêreldwyd te voorsien. Jou geskenk sal die wêreld beteken vir ons vervolgde familie – kliek hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.