ToekomsVenster: Die bediening van Jesus

riete_rivier_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay.)

Hand. 1:1-2  – My eerste boek, Teofilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het.

Lukas verwys in breë trekke na die bediening van Jesus. Hy sê wel dat hy in sy eerste skrywe, daarmee verwys hy na die Evangelie van Lukas, geskryf het oor “alles wat Jesus gedoen en geleer” het.

Ons weet eintlik maar min van Jesus se lewe en optrede. Wat noodsaaklik is om te weet is vir ons in die Evangelies opgeskrywe. Behalwe vir Jesus se geboorte is daar maar een verwysing na Jesus verder voordat Johannes die Doper Hom as volwassene in die Jordaan doop.

In daardie dae het ʼn leermeester se openbare bediening eers begin wanneer hy 30 jaar oud geword het. Die een keer waarna ek verwys is Jesus toe Hy as 12 jarige die tempel met sy ouers besoek en nie saam met hulle teruggekeer het huis toe nie. Teen die tyd dat Josef en Maria agterkom dat Jesus in die geselskap ontbreek het heelwat tyd verloop. Hulle moes erg bekommerd gewees het en vind Hom later in gesprek met die leermeesters en Skrifgekeerdes van sy tyd. Hy vertel ewe kordaat dat hulle nie Hom moes gesoek het nie, immers Hy is besig met die dinge van sy Vader.

Lukas 2:49 – Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?”

As Jesus dan later deur Johannes die Doper gedoop word neem sy aardse bediening in aanvang. Breë lyne van sy lewe, optrede, wonders, lering en bediening word in die Evangelies weergegee. Drie jaar lewe en werk Hy saam met sy dissipels in die dorpies en gemeenskappe van veral Galilea. Sy laaste dae in Judea word grafies vertel wat sy gevangenisskap, verhoor en uiteindelike kruisiging insluit. Sy na opstanding verskynings word vermeld en die opdrag om op die gawe van die Heilige Gees te wag is daarvan deel. Met die hemelvaart is Jesus se aardse bediening afgehandel en breek die dispensasie van die Heilige Gees aan.

Johannes getuig aan die einde van sy Evangelie dat al die boeke van die wêreld nie dit wat Jesus gesê en gedoen het kan bevat nie. Sy optrede, woorde en dade was so ryk en betekenisvol dat daar dalk na die insidente afsonderlik verwys kon word maar die implikasie en impak nie in ʼn leeftyd kan uitput nie. Lukas se aanspraak dat hy oor “alles wat Jesus gedoen en geleer het” skrywe het is dalk effens aanmatigend!

Daarvoor is die Persoon van Jesus net die groot, omvangryk, heerlik en wonderlik.

Johannes 21:25 – Daar is nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie.

ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Ek sal nie Lukas se skrywe as aanmatigend beskou nie.Daar moet onthou word dat die Evangelie van Lukas tot by Adam teruggaan.Lukas skryf sy Evangelie vir ‘n Griekse heiden,en wil dus aantoon dat Jesus vir alle mense gekom het.Matteus skryf vir Jode en gaan net terug tot by Abraham,wat hulle stamvader is.Dit is doelbewus so geskryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.