ToekomsVenster: Dit is ’n keuse

(Foto: Sorasak/Unsplash)

Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” – Markus 1:14

Dit is opmerklik dat Jesus, nadat Hy verneem het dat Johannes die Doper in die tronk opgesluit is, hom  nie gaan besoek of probeer om hom te bevry nie. Soos Johannes sy roeping moes uitvoer, so is die Seun van die mens gerig op die taak voorhande.

Die tragiese dood van Johannes is aan ons bekend. Die ruggraadlose Herodus laat hom onder aanstigting van sy ewe boosaardige vrou in die gevangenis onthoof. Daarmee het Johannes sy taak as wegbereider vir die Messias Koning afgehandel. Die fokus verskuif nou na die Een van wie Johannes getuig het.

Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie. – Johannes 1:27

Die grootste deel van Jesus se bediening het  in Galilea plaasgevind. Die Suidryk, Judea, het ietwat van ʼn meerderwaardigheid in hulle rondgedra. Baie volkere was in die Noorde saamgetrek en daar is op hulle neergesien. Jesus se bediening was van die begin af veral gerig op die mense wat in die samelewing met agterdog en vooroordeel bejeën word.

Jesus se intreeboodskap is betekenisvol. Dit vorm die sambreel waaronder alles waarmee Jesus besig was verstaan en interpreteer moes word. Dit gaan duidelik oor die Koninkryk van God.

In Hom het die Godsbedeling naby gekom. Dit is die naaste wat mense nog ooit aan die Koninkryk gekom het, trouens, Jesus bring die Koninkryk binne gewone mense se bereik.

Mens kry daaraan deel nie deur talle inhoudlose seremoniële gebruike en tradisies nie. Daardie era het nou verbygegaan. Dit was hoogstens ʼn simboliese vooruitskou van wat God se bedoeling van die begin af was.

Die Koninkryk van die hemel is die bedeling waar alles onder die heerskappy en soewereiniteit van God in Christus Jesus inskuif.

Die opdrag waarmee gelowiges besig moet wees hou eweneens verband met die Koninkryk. Mense, strukture, sektore en samelewingsverbande moet kennis neem van die Koning en hul met Hom identifiseer.

Jy is of deel van die Koninkryk van God, van die lig, van God se heerlikheid of die Koninkryk van die duisternis. Dit gaan oor ʼn keuse. Is jou besluit al gemaak?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kiewiet ·

Baie dankie .
n gedagte wat my ook tref is ons lewe in die lewe met een voet in die koningkryk en en voet in die wereld: dit is die realiteit , maar jou keuse is van watter voet af dink jy en tree jy op ?
Victor Frankl se “tussen n aksie en reaksie is daar n veilige spase (jou keuse)
Alles kan van jou weg geneem word behalwe die reg om te kies hoe jy daaroor voel .
Sal dit nie fantasties wees as al ons Christene in die wereld leef ,maar op tree van n ‘koningkryk” attitude , of denke !!

Dankie vir die mooi stukkie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.