Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. – Ps. 131:2
Johannes de Villiers skryf onder die opskrif “Wat maak jou gelukkig?” oor die persepsie dat getroude mense gelukkiger is as ander. Enkellopendes word op ʼn afstand beskou, jammer gekry of vermy. Valentynsdag is ten diepste ʼn dag vir mense in betekenisvolle verhoudings. Navraag onder 2 000 mense het aangedui dat Valentynsdag deur die meeste mense as van die neerdrukkendste dae beskou word.
Geluk lê nie in die eerste plek in verhoudings nie, ongeag van hoe betekenisvol en vervullend dit mag wees. In De Villiers se woorde: “As jy op jou eie nie gelukkig kan wees nie, gaan trou nie jou probleem oplos nie”. Ander navorsing het daarop gedui dat ongetroude en getroude mense in dieselfde mate gelukkig is.
Die vertrekpunt is dat jy eers innerlik tot rus moet kom. Dit is ʼn persoonlike reis wat lewenslank duur. Die getroude staat gaan indien hoegenaamd kortstondig bydrae tot groter geluk. Dit is egter van korte duur, en word die sogenaamde wittebroodsindroom genoem. Daarna is jy weer op jouself aangewese om die lewe as gawe te omarm.
Leef dan eerder soos De Villiers sê, vanuit ʼn verhouding met God in verhouding met self en dan ander. As jy nie met jouself vrede het nie gaan niks anders jou probleem aanspreek nie. Kom dringend by jouself uit.
- ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za
So waar!!