ToekomsVenster: Maak oop die deur

klein-hondjie

Foto: Robert Larsson/Unsplash.com

Ons kinders is vir ʼn week Kaap toe en soos dit is moet pa en ma instaan vir ʼn paar interessante verantwoordelikhede. Karlu se Beagle (hond) soek skuiling vir die volgende tien dae en oupa en ouma is die gelukkige wenners. Die brakkie is nog baie jonk en wil speel, eet, ontdek en kou.

Tuis slaap hy binnenshuis maar ons het besluit om hom die luuksheid nie toe te laat nie. Die deur wat op die stoep oopmaak het dit gisteraand effe ontgeld maat gelukkig het dit, nadat ons elke lig afgeskakel het om te kommunikeer dat niemand tuis is nie, stil geraak.

Vanoggend egter is ʼn ander storie. Hy is terdeë bewus van elke beweging en laat geen steen onaangeraak om ons aandag te trek nie. Uiteindelik het ons handdoek ingegooi en die deur oopgemaak om die selfgenooide gas binne te laat.

Speels het hy begin om die huis te ontdek en dan en wan teen ons opgespring. Tog was dit nie ʼn onaangename ervaring nie, trouens die gedierte het nogal persoonlikheid. Die liefde straal van hom uit en met ʼn bietjie aandag is hy heeltemal tevrede. Nou het die vrede op ons huis gedaal en elkeen van ons, hy ingesluit, doen wat “sy hand” vind om te doen. Ek moes net die deur oopmaak. (Vanaand sal seker weer ʼn uitdaging wees maar ons wag tot dan!)

Dié ervaring het my laat wonder oor mense, geleenthede, ervarings en ander goed wat aan die deur van ons harte krap en klop. Ongeag hoeveel geraas en ongerief dit veroorsaak het ons vooraf besluit dat ons dit nie gaan innooi nie. Waarom nie?

“Ek is reeds te veel keer teleurgestel. Ek vertrou niemand nie. My lewe is reeds te besig. Ek is moeg gegee. Ek stem nie met hulle saam nie. Hulle bedreig my. Ek is bang vir oopmaak. Ek hoor die geklop aan my deur maar gaan dit nie waag nie”.

Weer ʼn keer, waarom nie?

Die ervaring mag jou verras. Dit mag (en gaan waarskynlik) jou lewe verryk. Wie weet, jy nooi dalk ʼn engel van die Here binne.

Ek moet sê ek verwelkom nogal die ekstra asempie in die huis. Al moet ek dit teensinnig erken dra die dierasie iets by tot vandag se mooi.
Dit laat my dink aan ʼn lied in die kerk se liedboek.

Maak oop die poorte, deure wyd
Die Koning kom in heerlikheid
Oorwinnend kom Hy aangery
Met klere voor Hom uitgesprei
Die Heerser van die hemelryk
Is ook ons Heiland tegelyk
Ons gee die Koning eer
Ons prys U Naam o Heer

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kornel ·

So die waarheid.
Hoeveel keer wil ons nie, maak staat op ons-self, inplaas daarvan om op die Here staat te maak. Sodra ons dit begin doen, besef ons die wonders en geluk. Soos die hondtjie wat net liefde gee.
Amen, mag ons almal vandag die Here inlaat en Sy Grootheid en Liefde ervaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.