ToekomsVenster: ’n Blywende teenwoordigheid

wolke-sonsondergang-strand

(Foto: Quino Al/Unsplash.)

2 Kor. 3:7-11 – Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie? Die bediening waardeur die mense veroordeel word, het met heerlikheid gekom, maar die bediening waardeur die mense vrygespreek word, oortref dit verreweg in heerlikheid. Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie. As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter.

Die gebeure toe die dekaloog aan Moses gegee is, is bekend nie waar nie?

Israel het deur die guns van God die dreigende Farao afgeskud en kon nou fokus op dit wat voorlê. Hulle was op pad na die beloofde land waar hulle in vryheid en voorspoed sou lewe. Immers, dit staan tog bekend as Kanaän of die beloofde land. Die land is vol belofte en vloei met melk en heuning.

Die volk is so aangegryp deur die grootsheid van alles daar by die berig Sinai dat hulle nie kans sien om self van die Here te hoor nie. Vlamme, flitse en aardbewings vorm alles deel van die Godsverskyning.

Die gebeure kan met die woord heerlikheid beskryf word. Dit is aangrypend, skouspelagtig en verhewe. So iets het Israel nog nie beleef nie. Die tien gebooie word as reël van dankbaarheid vir die verlossing uit die slawehuis gegee. Voortaan sou dit die optrede van die verbondsvolk teenoor God, mekaar en ander definieer.

Tog word Israel toenemend bewus van hul onvermoë om daarvolgens te lewe. Gereelde offers en feeste van allerlei aard herinner simbolies aan die verlossing wat in die toekoms moet plaasvind. Die Messiasverwagting word lewendig gehou wanneer hulle met hul eie onvermoë konfronteer word om soos God se eiendom te lewe.

Dan kom Jesus, die Bybel sê “in die volheid van die tyd”, op God se bestemde oomblik. Jesus se koms getuig van ʼn groter heerlikheid, onvergelykbaar met die eerste daar by die berg.

Hier het ons met God self te doen, weliswaar in die vlees, maar nie minder God nie. Hy praat met gesag en bring lewe, bevryding, genesing en nuwe lewe.

Waar die heerlikheid waarvan ons by Sinai bewys word tydelik van aard is en verbygaan, ja selfs tot Moses se verleentheid, is hierdie heerlikheid ʼn permanente, blywende teenwoordigheid by en met ons.

Hierdie heerlikheid word met die woord “oortreffend” beskryf. Dit is van ʼn totaal ander en meerdere gehalte. Dit straal eweneens van ons uit maar verbleek nie met die tyd nie, inteendeel, dit neem toe namate ons die Seun van die mens leer ken en dien.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.