Luister: Kubermisdaad knou bekende aanlyn onderneming; eienaars gee raad

Rianca en Johan Jansen van Vuuren. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Danksy platforms soos Facebook, Instagram, Twitter en TikTok kan selfs die kleinste sakeonderneming deesdae op ʼn bekostigbare manier handelsmerkbewustheid bou, kliëntediens vergemaklik en sy inkomste verhoog.

Maar wat gebeur wanneer ʼn onderneming weens aanlyn skelmstreke skielik nie meer toegang tot hierdie noodsaaklike kommunikasieplatforms het nie?

Rianca en Johan Jansen van Vuuren, ʼn egpaar en mede-eienaars van die Afrikaanse aanlyn klerewinkel Klerekas.com, het in Maroela Media se ateljee vertel van die onlangse kuberkraker-ervaring wat hul sakeonderneming geknou het.

“Ons het nog nooit openlik hieroor gesels nie, want ons het tot ʼn sekere mate skoon verneder gevoel. Ons onderneming is soos ons kind. Dit is asof ons kind die afgelope paar maande konstant geboelie is,” sê Rianca, wat nou ander entrepreneurs meer waaksaam teen dié tipe misdaad wil maak.

In dié podsending verduidelik hulle hoe maklik dit is om ʼn slagoffer van kubermisdaad te word en watter drastiese stappe hulle moes doen om weer toegang tot hulle profiele te probeer verkry.

“Dit is nie asof ons op ʼn verdagte e-pos of skakel geklik het nie. Ek dink nie mense besef presies hoe gevorderd aanlyn skelmstreke geword het nie,” vertel Rianca.

Klerekas.com is in 2018 gestig en die egpaar vertel dat dit soos met enige ander onderneming baie opoffering en kafeïenbelaaide aande geverg het om Klerekas.com én sy sosialemediaprofiele op te bou.

Die egpaar wil ander entrepreneurs meer waaksaam teen dié tipe misdaad maak. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Kort nadat Johan sy werk bedank het om saam met Rianca heeltyds aandag aan hul onderneming te gee, is Rianca – en gevolglik al hulle onderneming se sosialemediaprofiele – deur ʼn kuberkraker gekaap.

“Alles is basies tot stilstand geruk, want bemarking op sosiale media is die kern van ons onderneming. Benewens verkope word jou beeld ook beskadig, want jou teenwoordigheid op sosiale media en die hoeveelheid gebruikers wat jou profiel volg, beïnvloed jou geloofwaardigheid by potensiële kopers,” voeg Johan by.

Die egpaar deel ook wenke met ander entrepreneurs rakende sosialemediaveiligheid.

“’n Mens is naïef as jy dink so iets kan nie met jou gebeur nie. Daarom moet jy die regte veiligheids- en besigheidsmaatreëls gereed hê. Ongelukkig leer ʼn mens dikwels eers meer hiervan wanneer jy self die slagoffer daarvan word.”

  • Luister na die volledige onderhoud met Johan en Rianca Janse van Rensburg boaan die berig.
  • Volg Klerekas.com op Facebook of besoek hul webblad by www.klerekas.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.