Kry jou beginnersgids vir essensiële olies

Hier is ‘n beginnersgids wat jou kan help om jou eie essensiële olies uit jou eie tuin te maak. (Foto: Anna Shvets/Pexels)

Elke badkamerkassie kort ʼn paar van jou gunsteling-essensiële olies, en as jy hierdie soort olies nog boonop self, en uit jou eie tuin kan maak, open dit ʼn hele nuwe wêreld vir jou as tuinier.

Life is a Garden het met behulp van bedryfskenners Amorentia-landgoed-en-kwekery in samewerking met Lopo ʼn beginnersgids vir essensiële olies saamgestel.

Soos met alle nuwe avonture gaan daar dalk kinkels wees om uit te stryk en foute wat jy moet maak om te leer, maar moenie bang wees om iets nuuts te probeer nie.

Wegspringplek: kies ʼn draerolie

“Wanneer jy essensiële olies gebruik is dit altyd belangrik om die olie met ʼn draerolie soos jojoba-, roosbottel-, kremetart-, maroela-, amandel-, of klapperolie te verdun voordat jy dit op die vel aanwend.

Toets die oliemengsel op ʼn klein area van die vel voordat jy ʼn nuwe essensiële olie gebruik, om enige allergiese reaksies te verhoed,” sê Lauren Strever, algemene bestuurder van Amorentia.

Essensiële olies word in lae dosisse gebruik omdat hulle so kragtig is. Die veiligheid van essensiële olies moet ook nog vir talle mediese toestande, asook swangerskap en borsvoeding nagevors word.

“Span eerder jou essensiële olies in by kersbranders, vir kamersproei, stoomsessies en ʼn heerlike bad.”

Begin kweek: kies jou plante

Roosmaryn (Foto: Karolina Grabowska/Pexels)

Roosmaryn is een van daardie kruie met eindelose kombuis- en medisinale gebruike. Hierdie plant kan help om spierpyn te verlig, geheue te verbeter, die immuun- en bloedsomloopstelsel te versterk, haargroei te bevorder, as ‘n antifungus, antibakteriese en antispasmodiese middel te dien. Wanneer dit ingeasem word, is roosmaryn doeltreffend teen asemhalingsinfeksies vanweë die plant se antiseptiese eienskappe.

Laventel (Foto: Elina Fairytale/Pexels)

Laventel is bekend vir sy kalmerende en ontspannende eienskappe. Hierdie plante word al eeue lank gebruik om spanning en angs te verminder, rustige slaap te bevorder en ʼn hoofpyn te versag. Voel jy omgekrap of sommer net moeilik – ja, laventel kan ook hiervoor help. Dit is ook ‘n uitstekende anti-inflammatoriese middel, insekweerder, antifungusmiddel, en ‘n middel vir ‘n wye verskeidenheid velkwale.

Kaapse jasmyn (Gardenia augusta). (Foto: Life is a Garden)

Kaapse jasmyn (Gardenia augusta) staan in parfumerie bekend as een van die mees goedgebalanseerde olies. Dit kan as ‘n top-, middel- of basisnoot ingespan word. Dit beskik oor eienskappe wat angs teenwerk, immuniteit bevorder, die spysverteringstelsel ondersteun en ontstekings kan bekamp. Hierdie kragtige plant kan ook help met artritis en die stimulering van probiotiese aktiwiteit in die ingewande.

Suurlemoene (Foto: Ryan Baker/Pexels)

Suurlemoene het ‘n verkwikkende en opbeurende geur, wat dit ‘n gewilde keuse maak om humeure te beteuel en energievlakke te verhoog. Dit kan ook help om die liggaam te ontgif en gesonde vertering te bevorder. Daarbenewens produseer suurlemoenbome dikwels ‘n oorvloedige oes, wat jou die geleentheid gee om met volop hulpbronne te eksperimenteer. Lemoenolie kan ook help met naarheid.

Suurlemoenverbena (sitroenverbena of Aloysia citrodora). (Foto: Life is a Garden)

Suurlemoenverbena (sitroenverbena of Aloysia citrodora) het ‘n lang medisinale geskiedenis wat veral toegeskryf kan word aan die voordele vir ʼn gesonde spysverteringstelsel. Hierdie plant bied anti-spasmodiese eienskappe wat simptome van slegte spysvertering, krampe, opgeblase gevoel en winderigheid kan verlig. Dit behandel ook slapeloosheid, spierpyn, lusteloosheid en depressie. Hierdie olie is algeheel opbeurend wanneer dit gebruik word as ‘n opkikker.

Hoe gebruik ek essensiële olies?

Foto ter illustrasie. (Foto: RDNE Stock project/Pexels)

Uitwendig: Jy kan ‘n paar druppels essensiële olie (begin met drie) by drie eetlepels van jou gekose draerolie voeg. As geen teenreaksies voorkom nie, kan jy die hoeveelheid essensiële olie verhoog en eksperimenteer met verskillende diktes van olies en draerolies. ‘n Mengsel van klapperolie werk goed vir liggaamsolie, terwyl ‘n roosbottel-infusie goed werk vir ‘n meer gekonsentreerde area.

Parfuum: Dit is ‘n regtig wonderlike gebied van essensiële olies om te verken, en nie so moeilik soos jy dink nie. Koop glasrollerflesse en ‘n draerolie wat vloeibaar bly as dit afgekoel word. Jojoba, kremetart en roosbottel werk goed hiervoor terwyl klapperolie nie in hierdie geval ideaal is nie. Maak jou eie parfuum deur tot vyf druppels essensiële olie by die draerolie te voeg en rol dit aan soos parfuum. Dit maak ook ekstra spesiale geskenke.

Verdamper of brander: Voeg tot tien druppels essensiële olie by ‘n teekersie-brandertjie of kamersproei. Die kragtige geur wat vrygestel word, is meer as net aangenaam; essensiële olies stimuleer die senuweestelsel en aktiveer verskeie funksies in die liggaam, van vertering tot kognisie.

Bad of stoom: Begin met vyf druppels in jou bad en kyk hoe jou liggaam reageer. Sommige olies, soos peperment en teeboom, kan die vel laat brand. Ander olies, soos wortelsaad (carrot seed), kan selfs braking veroorsaak. Jy kan ʼn toe bors beter laat voel deur met drie druppels essensiële olie jouself te stoom. Om te bad en stoom met kalmerende kruie is ook doeltreffend teen angs en paniekaanvalle.

Aromaterapie, of terapie met die gebruik van essensiële olies, verwys na die medisinale gebruik van spesifieke aromatiese plantbestanddele wat holistiese genesing bevorder. Holistiese medisyne of holistiese genesing is nie net ʼn “New Age”-term nie, maar verwys werklik na ʼn metode van genesing wat fokus op die persoon as geheel, en al die faktore wat moontlik tot ʼn siekte bydra in plaas daarvan om net die simptoom van siekte as ʼn geïsoleerde gebeurtenis in die liggaam te beskou.

As jy naby Polokwane by Tzaneen is, kan jy gerus Amorentia-landgoed-en-kwekery besoek vir ʼn pragtige verskeidenheid medisinale plante om te gebruik vir die maak van olies, tonikums en tee. Hulle tuinsentrum is omring deur asemrowende natuurskoon en spog ook met twee bosroetes waar besoekers die vrede en rustigheid van woud, volop voëllewe en plantsoorte kan geniet. Besoek ww.amorentia.co.za vir meer inligting.

As jy net te ver van Amorentia is, kan jy www.lifeisagarden.co.za besoek vir jou naaste tuinsentrum of kwekery wat spesifieke medisinale plante verskaf.

  • Life is a Garden verskaf inligting oor voordelige plante, maar dit moenie as farmaseutiese advies beskou word nie. Hierdie inhoud word gedeel ter bevordering van die liefde van ons natuurlike wêreld en is nie bedoel om as ʼn mediese voorskrif gebruik te word nie. Besoek ʼn dokter indien jou simptome vererger of voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.