’n Vetplant waarvan almal sal hou

Die sebra-dwergaalwyn (Haworthiopsis attenuata) gaan ewe maklik in jou tuin en die huis aard. (Foto: Life is a Garden)

Die sebra-dwergaalwyn (Haworthiopsis attenuata) is ʼn inheemse plantjie, afkomstig uit die Oos-Kaap. Ja, die plant is ook familie van die aalwyn en is inderdaad ʼn plantjie waarvan almal sal hou. Die plantjie met wit strepies oor sy skerp, vlesige groenblare wat roosvormig uitsprei, vang vinnig die oog in ʼn tuin. Hulle groei ewe goed binnenshuis as in ʼn tuin, wat beteken die maklike “groeier” moet beslis op jou aankooplys vir somerplante wees.

Wenke om sebra-plantjie te laat gedy

Kweek dit so: Die plant groei goed in alle soorte lig. Buite groei die plantjie veral goed waar dit oggendson kry. As jy hom in volson plant, moet die plantjie eers aanpas. Binnenshuis kan hulle plekke met min lig goed hanteer, maar moet na ʼn paar weke na ʼn plek met goeie lig geskuif word. So hou jy jou plant gesond.

In die tuin: Die plantjie groei ewe goed in enige tipe houer as in ʼn rotstuin. Sy hoogte is 15 cm. Hulle kan saam met enige laaggroeiende plante geplant word in grond wat goed dreineer; verkieslik sanderige grond. Onthou net jou vetplante hou nie van “nat voete” nie. Die plante moet verkieslik een keer per week water kry en die grond moet droog wees voor dit weer water kry. Bemes een keer per maand gedurende die lente en somer. Raadpleeg jou plaaslike kwekery vir die korrekte organiese plantvoedsel.

Interessante feite: Sebra-dwergaalwyne is moeitevrye plantjies, nie giftig nie en kan ryp vir kort periodes verduur.

Dié vetplant produseer ook aalwynsap wat genesend is. Dit kan aan klein snytjies gesmeer word en selfs vir velirritasies gebruik word.

Die plantjie het boonop goeie dekoratiewe waarde met sy growwe tekstuur en wit strepies.

Plaagbeheer: Hierdie plantjies is oor die algemeen teen plae en siektes bestand, maar wees maar op die uitkyk vir die alledaagse verdagtes soos witluise en spinnekopmyte. Hou jou plantjie gesond en jy sal vir ʼn dekade met ʼn groen vriendjie beloon word.

Het jy geweet? Hierdie plant word gebruik in kosmetiese produkte soos sjampoe en rome, asook homopatiese medisyne en skoonheidsmiddels.

Topwenk:

Jou sebra-dwergaalwyn kan maklik nuwe plantjies vorm. Verdeel die plantjies (babaplantjies) deur hulle van die moederplant te verwyder en in ʼn houer met klam, voorbereide grond oor te plant. Wag geduldig tot jy nuwe wortels waarneem voordat jy dit water gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.