Skep minimalisme in jou tuin

(Foto: Life is a Garden)

Met die winter nou in volle swang, het jy meer tyd op hande om te droom oor hoe jou tuin in die lente en somer moet lyk.

Volgens die span by Hingham-kwekery is die jongste tendens in argitektuur en binnenshuise dekor deurspek van skoon eenvoud, eenvoudige lyne, oop ruimtes en natuurlike, kontrasterende en komplementerende materiale.

“ʼn Minimalistiese benadering tot tuinmaak sal die ontwerp wat die argitek en binnenshuisversierder begin het, ondersteun en selfs verbeter.”

Boonop verg ʼn minimalistiese tuin minder onderhoudtyd, dit kan ook jou waterverbruik verlaag en tuinrommel is ook minder.

Die skoon lyne en oop ruimtes van dié ontwerpstyl beloof  ook om ʼn kalmerende effek op enige besige gemoed te hê.

Hier is alles wat jy moet weet om aan die gang te kom met hierdie soort tuin:

Wat is minimalisme en hoe kan jy die voorkoms bereik?

Minimalisme gaan oor eenvoud. Span die ontwerpstyl in om sterk kenmerke met ‘n gedefinieerde doel in jou ruimte te skep. Die doel is om minder te hê, wat dan ‘n gevoel van groter ruimte en orde skep. Die minimalistiese tuin vertel die verhaal van ‘n ruimte met ‘n weldeurdagte tema wat deur kleuraksente, teksture, vorms en lyne deur die tuin uitgebrei en aangevul word.

(Foto: Life is a Garden)

  1. Minder is meer: Mik eerder vir een groot pot as veelvuldige kleineres. Gebruik minder opvallende ontwerpelemente en ‘n neutrale kleurpalet. Beperk die materiaal wat in die spasie gebruik word, en hou die area netjies en byna tot die minimum.
  2. Kontras voeg belangstelling by: Verkry kontraste in tekstuur en kleur, of dit nou skakerings van groen is of net groen met ‘n spatsel van ‘n tweede kleur hier en daar. Groot blare gekontrasteer teen plante met ʼn fyn tekstuur is ‘n perfekte kombinasie. Gebruik water om beweging en kalmte aan die landskap te verskaf. Jy kan ʼn fontein of visdammetjie oorweeg om die effek te beklemtoon.
  3. Grootte maak saak: In plaas daarvan om baie klein plaveisels en trapklippe te gebruik, mik vir groot elemente in sterk vorms. Groot vierkantige plaveisels sal ‘n spasie mooi vul terwyl hulle sterk lyne gee en ʼn gevoel van ruimheid skep.
  4. Herhaling is die sleutel: Kies twee plante wat die fokuspunt is van langer beddings en herhaal dit regdeur. Skoon en kontemporêre plante en houers sal die tema beklemtoon. Verander jou plante in fokuspunte deur hulle in dieselfde houer te plant, en dit deur die tuin te dupliseer.
  5. Vorm jou wêreld: Geometriese vorms is die held in jou minimalistiese tuin. Jy kan dit bereik deur jou plaveisels strategies in ‘n diamantvorm te lê of jou beddens met skoongesnyde lyne en skerp hoeke te ontwerp. Tuinsentrums het waterfonteine en tuinmeubels wat sal help om jou tema nog verder uit te brei.

Wenk: Beplan jou tuin voor jy wegspring. Skep is soort droomkaart vir hoe jy wil hê jou tuin moet lyk en watter soort atmosfeer dit moet hê. Oorweeg watter ervaring jy graag uit jou tuin wil hê en watter soort gevoel jy opsoek is na wanneer jy in jou tuin ontspan of onthaal.

Kies plante vir jou minimalistiese tuin

  • Die Euphorbia-familie het ‘n paar treffende lede wat in die regte omgewing en pot ‘n stelling sal maak. ʼn Spookwit of grys Euforbie in ‘n houtskool swart pot teen ‘n beton gepoleerde muur sal drama skep. Die Afrikaanse melkboom (Euphorbia trigona), óf die rooi of groen weergawes daarvan maak ook pragtige potplante en kan selfs binnenshuis aangehou word.
  • Net so fassinerend is die Alocasia-familie; die afgelope maande is ‘n aantal fassinerende variëteite in die mark bekendgestel. Een reuse regop olifantoor in ‘n groot kontemporêre pot sal die kollig steel terwyl drie blaarryke piesangbome (Musa ensete – die eetbare piesang) in drie bypassende regop potte pragtig in ‘n ry lyk.
  • Philodendron Hoop (Philodendron Bipinnatifidum) en Xanadu (Philodendron xanadu) is albei ewe treffend wanneer dit herhaal word in ‘n lang ry in son- of halfskadu-areas.
  • Gebruik Soetviburnum (Viburnum odoratissimum) vir ‘n muur van groen of verskansing. Die sterk struktuur van hierdie plant werk pragtig saam met wiegende wilde gras soos Ngongoni steekgras (Aristida junciformis), wat afgekap moet word wanneer dit omval.
  • Kerkeibos (Crassula ovata) vir son tot skadu is ‘n veelsydige inheemse vetplant met blink groen blare.
  • Een of twee groot enkelpotte met ’n Afrikaanse melkboom (ficus lyrata) of bamboespalm is ideaal in ’n ry regop smal potte langs ’n sykant.

Het jy net ʼn balkon vir ʼn tuin?

Plante en potte met lang, reguit sye sal ʼn heerlike fokuspunt skep terwyl dit ook min spasie opneem. Kies ‘n kleur wat ‘n sekondêre kleur sal optel wat deur die ruimte herhaal is, miskien in die rame van vensters of meubels. Die plante sal dit alles bymekaarbring aangesien jou oog op alles in die toneel fokus wat dieselfde kleur het. Plant gerus hier daardie een of twee groot enkelpotte met ‘n Afrikaanse rubberboom (ficus lyrata) of bamboespalm, want dit is ideaal vir ʼn regop ry langs jou balkon af.

Sodra jy ‘n skoon en eenvoudige voorkoms geskep het, is onderhoud die sleutel om die area netjies te hou. ’n Skerp snoeiskêr sal handig te pas kom sowel as ’n blaarblaser, maar die bonus is dat jy tyd op onderhoud gaan verminder omdat die landskap vereenvoudig is met ʼn beperkte verskeidenheid van plante om te versorg.

Maak seker dat jy ʼn geakkrediteerde kwekery van die Tuinsentrumvereniging (GCA) besoek vir advies oor plante wat min instandhouding verg. Jy sal hier ook die nodige snoeigereedskap en kunsmis kry om jou wintertuin gloeiend te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.