Wat beteken jou tuin vir jou?

Argieffoto (Foto: Jill Heyer/Unsplash)

Deur Karen Viljoen

Vir my is my tuin ʼn plek om God te ontmoet. Daar bewonder ek Sy skepping, sien ek Sy sorg raak en hoor ek Sy stem in die wind en reën. Dit is ook daar waar ek rustig raak en bid.

Om ʼn tuin te onderhou verg baie dissipline en kan daarom ook help met jou geestelike dissipline.

Hierdie tyd van die jaar is die meeste mense moeg van gees en vlees en jou tuin kan baie help met ontspanning en rus. Oorweeg nuwe aktiwiteite in die buitelug; hou piekniek op die gras met ʼn vrolike kombers, sit rustig en bekyk die voëls se manewales of hang ʼn hangmat iewers op en lees ʼn boek.

Alhoewel Oktober beskryf word as die mooiste maand in die tuin, kan November uitdagend wees vir tuinmaak. Gewoonlik is dit ʼn warm maand wat vra vir slim planne om plante koel en vogtig te hou.

Dit is ook nou die regte tyd om nuwe kleur in te bring. Dit sal sorg dat jy ʼn feestelike Kersfeesete in jou tuin kan geniet.

Hou in gedagte dat vetplante ʼn goeie oplossing kan wees vir daardie areas wat baie son of hitte kry in die warm somermaande.

Argieffoto (Foto: Robin Jonathanr/Unsplash)

ʼn Somertuin moet ook gereeld voeding kry. Omdat plante in die somer meer groei en blom, het hulle bykomende voeding nodig. In areas waar dit baie reën word die voeding in die grond vinniger uitgeloog deur die water. Onthou ook dat die plante in jou potte, binne of buite, gereeld voeding en water moet kry. Hulle wortels word beperk in ʼn pot en kan nie soos plante wat in die oop grond groei, hulle wortels versprei om voeding en water te gaan soek nie.

Plante het baie kenmerke wat ooreenstem met die mens. Wanneer hulle blootgestel word aan uiterste omgewingstoestande, soos hitte, koue, te veel vog of te min voedingstowwe, ervaar hulle stres. Dit kan weer daartoe lei dat hulle baie meer vatbaar raak vir siektes en plae.

Kom ons kyk na praktiese wenke wat jou sal help om te verseker dat jy ʼn gesonde, gelukkige en pragtige somertuin kan hê.

Wat beteken dit om dissipline in jou tuin te hê?

Dit kan beteken dat jy sekere tuintake moet herhaal en oefen om dit gereeld te doen, byvoorbeeld tye wanneer jou tuin natgegooi moet word, voeding kry, gesnoei moet word, behandel moet word vir insekte of swamme en nuwe saailinge, groente en kruie moet kry. Dit kan andersins beteken dat jy fisiese dissipline in die uitleg van jou tuin kan gebruik byvoorbeeld die groepering van fokusplante bymekaar, die aandag aan die herhaling van sekere elemente in jou tuin byvoorbeeld potte of bome, die balans in die grootte, simmetrie en vorm van jou beddings.

Vog in die tuin

Dit is eerstens baie belangrik om jou tuin klam te hou. Gooi die tuin nat gedurende die koelste tyd van die dag, vroegoggend of laataand. Dit verhoed dat die hitte en son al die vog in die grond laat verdamp en sodoende dra jy ook by tot waterbesparing. ʼn Deklaag op die grond tussen plante is ʼn slim idee om te help dat vog langer in die grond bly. Voorbeelde van deklae is boombas, strooi, dooie blare, dennenaalde, kompos, perskepitte of neutdoppe. Moenie klippe vir hierdie doel aanwend nie. Klippe bak warm in die son en veroorsaak net meer hitte. ʼn Deklaag help ook dat daar minder onkruid tussen jou plante groei. Die deklaag sal keer dat sonlig op die grondoppervlak kom en dus seker maak dat die omstandighede wat nodig is vir onkruidsaad om te ontkiem, ongunstig is. Maak seker dat wat ook al jy gebruik as deklaag, nie enige onkruidsaad bevat nie.

Kleur in jou tuin

Die vinnigste en goedkoopste manier om kleur in jou tuin te kry teen Kersfees, is met saailinge wat blom. Kies ʼn kleurskema wat jou laat dink aan Kersfees en koop saailinge wat blomme of blare het in daardie kleure.

Vir ʼn rooi en wit kleurskema kan jy dink aan rooi salies, petunias, impatients, begonias. Vir ʼn wit skouspel kan jy Alyssums, petunias, impatiens en verbenas inspan.

Onthou ook dat massas van een soort plant altyd ʼn groter impak het.

Argieffoto (Foto: Emma Gossett/Unsplash)

Voeding in die tuin

Plante het kos nodig om te groei, blom en vrug te dra. Aangesien die somermaande die meeste groei in plante te weeg bring, moet jy jou plante help om hulle volle potensiaal te bereik. Ons vergeet maklik daarvan en dink soms dat plante kan regkom net met water.

Voeding kan op verskeie maniere en in talle vorme plaasvind.

Kompos bestaan meestal uit verrotte plantmateriaal en het ook mikrobes; lewende organismes wat plantegroei aanmoedig. Verder help dit om die grond te belug, voorsien plante van vog, stikstof, potassium en fosfor. Die voedingselemente in kompos is egter nie in hoë konsentrasies nie so as jy minder gereeld wil voeding doen, kan jy gebruik maak van kunsmis. Dit bevat meer spesifieke en hoër hoeveelhede voedingswaarde vir plante en is ook makliker om toe te dien. ʼn Toediening van twee maal per jaar – in die herfs en somer – behoort genoeg te wees.

Argieffoto (Foto: Neslihan GunaydinUnsplash)

Vloeibare kunsmis is goed in verskeie opsigte. Dit word vinniger deur die plant opgeneem, sal nie plante brand nie en dit het ʼn baie laer impak op die omgewing omdat dit nie ʼn oormaat van voedingstowwe bied nie. Sou jy die metode van voeding kies sal dit goed wees as jy dit een maal per maand herhaal.

Chemiese korreltjies kunsmis bevat ʼn groot hoeveelheid voedingstowwe en kan meer spesifiek toegedien word vir verskeie soorte plante en hulle behoeftes. Wees egter versigtig met die hoeveelhede wat jy toedien. Langdurige gebruik van chemiese kunsmis kan van die lewendige organisme in die grond beskadig en kan ook oor ʼn lang tydperk die pH van die grond verander en ʼn ongesonde opbou van sekere voedingstowwe veroorsaak. Jy kan elke drie tot vier maande hierdie kunsmis toedien omdat dit gewoonlik stadig vrygestel word. Hou in gedagte dat dit altyd beter is om nat te gooi voor of na jy toegedien het.

Organiese kunsmis word slegs van natuurlike stowwe soos verrotte plantmateriaal, hoendermis en beesmis gemaak. Dit is baie beter vir die omgewing, hou die organismes in die grond lewendig en is maklik om toe te dien.

Goggas in die somertuin

Omdat plante in jou somertuin nou op hulle mooiste lyk met blomme en nuwe groei, lyk dit ook vir goggas na ʼn ideale eetplek. Gelukkig is daar baie insekte in die tuin wat ook voordelig is vir plante.

Die mees algemene voorbeelde is die skilpadbesie (ladybug in Engels) wat luise, dopluise, witvlieg en myte opeet.

Hottentotsgotte of bidsprinkane het ook ʼn groot eetlus vir ʼn groot aantal tuininsekte, en bye is natuurlik baie belangrik vir die bestuiwing van plante.

Goggas wat minder welkom in ons tuine is, is die wat baie skade aan plante aanrig soos wurms wat jou grasperk kan aanval en die baie bekende swart- en wit wurms wat groot skade aan Clivias kan doen. Omdat wurms leef van plantmateriaal, is die impak van hulle skade aan plante baie groot. Slakke kan ook in groot hoeveelhede baie plantmateriaal opvreet. Plantluise suig die vog uit plante uit en veroorsaak dat die blare of takke afsterf.

Argieffoto (Foto: Jill Heyer/Unsplash)

ʼn Gelukkige tuin het gelukkige insekte wat weer voëls lok en baie plesier kan verskaf. Hoe jy ook al kies om goggas en siektes in jou tuin te beheer, onthou om altyd die mees omgewingsvriendelike manier te kies.

Neem inspirasie uit elke seisoen van die natuur en pas dit ook so toe op die seisoene van jou lewe. Die Here gee vir ons al die riglyne en om tuin te maak en te plant, bring hoop. Sorg vir jou tuin en jy kan dalk ʼn nuwe soort vrede en vreugde ervaar.

  • Karen Viljoen is landskapargitek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.