Verf jou eie keramiekskottel

(Foto: Verskaf)

Deur Cay Momberg

Omskep ʼn koue wintersmiddag in ʼn kreatiewe een deur op ʼn bisque-skottel met gekleurde, permanente merkpenne en akrielverf te teken, te skryf en dan te verseël.

Jy het nie ʼn spesifieke patroon nodig nie – maak sommer jou eie herhalende patrone om die skottel op jou eie manier te versier.

Mag hierdie handgemaakte Boheemse skottel ʼn vinnige, eenvoudige en koste-effektiewe manier wees om enige koue wintersmiddag te verwelkom.

Benodigdhede:

Maak seker dat die oppervlak (bisque-skottel) behoorlik voorberei en skoongemaak is.

  • 1 x bisque-skottel (verkrygbaar by Glacermo in verskillende groottes)
  • Swart en goue permanente merkpenne
  • Swart, oranje, groen, pienk, pers, blou en wit akrielverf
  • Verfkwas
  • Water om jou verfkwas skoon te maak
  • Deurskynende vernis

So maak mens:

  1. Versamel al jou materiaal voordat jy begin. Steek jou kaggel aan, ontspan en maak die wintersmiddag korter.
  2. Nadat jy gereed is, besluit op die ontwerpe wat vir jou smaak geskik is. Dis nie nodig om te sê wat myne was nie – Boheemse styl. In hierdie geval het ek veral op wintersontwerpe gekonsentreer.
  3. Neem nou die swart permanente merkpen en begin deur ʼn fokuspunt te skep deur die woord WINTER en die silhoeët van ’n boom te skep. Vul nou die res van die skottel in met jou gunsteling woorde en ontwerpe. My ontwerpe sluit byvoorbeeld warm koppies koffie en sop, hand- en oormuffins, wynglase en blare in. Gee jou kreatiewe brein vrye teuels. Moenie vergeet om al die sirkels, herhalende lyne, krulle en dekoratiewe patrone wat uit die fokuspunt vloei as ʼn eenheid saam te voeg om sodoende jou ontwerp te voltooi nie.
  4. Ek het die agtergrond rondom my woorde en ontwerpe met swart akrielverf bedek. Om dit ʼn tikkie meer persoonlik te maak, het ek byvoorbeeld ons familie se gluhwein-resep in die boom se stam geskryf.
  5. Laaste maar nie die minste nie word kleur bygevoeg om die lyne, krulle, die boom, woorde en enige oop spasies op jou ontwerp in te kleur en jou skottel verder te komplimenteer.
  6. Nadat die verf op die voorkant droog is, draai jou skottel om en verf die agterkant swart. Laat die verf behoorlik droog word voordat jy kleurlose vernis oor die agter- en voorkant verf. Laat die skottel oornag staan om droog te word.

Wenke:

  • Omdat die bisque poreus is, moet jy meer as een laag verf gebruik. Die foto’s hierbo toon die verskil aan. Die swart-en-wit prentjie van die bord het een laag verf. Die prentjie van die kleurvolle skottel bevat twee tot drie lae verf.
  • Indien jy van patrone gebruik wil maak en nie met handsketse vertroud is nie, druk jou ontwerp op papier uit en gebruik dan koolstofpapier om jou ontwerp met behulp van enige pen of potlood op die skottel oor te trek.
  • Wanner jy klaar is, neem die koolstofpapier weg en gebruik die swart permanente merker om die koolstoflyne op die bisque-skottel oor te trek voordat jy dit met swart en verskillende kleure invul.

Besoek Cay Momberg se Facebook-blad vir nog oulike handwerkprojekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.