Dié stroopsoet manikuur-gier het TikTok aan’t gons

(Foto: Skermgreep/Pinterest)

Die sosialemediareus TikTok is lankal nie meer net vir tieners met snaakse danspassies nie, maar het as’t ware ʼn platform geword waarop enigiets, van skoonmaakwenke tot die jongste modeneigings, gebore en wêreldwyd versprei word.

Een van dié jongste voorkomstendense is sogenaamde stroopnaels, oftewel “syrup nails”, en hulle lyk net so soet en glad soos wat hulle klink.

Volgens Glamour is stroopnaels ʼn Koreaanse naeltendens wat veronderstel is om die gladde, blink glans van stroop na te boots, soortgelyk aan die glansende, afwerking van jellie-naels. Dit herinner ook aan die model Hailey Bieber se “doughnut glaze”-naels wat in 2022 sosiale media aan die praat gehad het.

Video’s van die stroopnael-manikuurgier het reeds 10 miljoen kyke op TikTok gekry en internetsoektogte daarna het die afgelope week met 9 200% op Google toegeneem, aldus Hello!.

@janhuyy

lets get our nails done in korea????????☁️ #koreatravel #koreanbeauty #koreannailart #koreanailart #nailart #nailideas #fyp #syrupnails

♬ ASAP – NewJeans

Aangesien die neiging se klem op ʼn gladde afwerking eerder as skakering is, is daar baie ruimte om die modeneiging jou eie te maak. Kleure soos melkerige wit, pienk, koraal en pers is veral op TikTok gewild.

Jy kan selfs jou gunstelingkleure met ʼn deurskynende basislaag meng om die voorkoms na te boots.

Verskeie TikTokkers verkies ook om dié tendens met ʼn ombré-styl – waar twee kleure egalig op die nael in mekaar vermeng word – aan te wend. Waar daar in die gewone ombré-styl twee verskillende kleure vermeng word, word twee soortgelyke kleure van dieselfde skakering egter vir dié tendens gebruik.

Maak só jou eie naels stroopsoet

  1. Berei jou naels voor deur dooie velletjies terug te druk en jou naelbed te poets (buff).
  2. Wend ʼn deurskynende basislaag aan om jou naels te versterk en te beskerm.
  3. Wend dan ‘n baie deurskynende of verdunde natuurlike naellakkleur, byvoorbeeld koraalpienk, aan.
  4. Wag vir jou eerste laag om droog te word. Vat dan ‘n klein spons en bou stadig die lae aan die punte van jou naels op.
  5. Voltooi dit met ’n jelagtige bolaag vir ekstra glans.

Bronne: Glamour, Hello!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.