Foto’s: Elizabeth Arden vier goue bestanddeel vir teenveroudering

Elizabeth Arden se jongste toevoeging tot hul kapsulefamilie is by die Alto 234-restaurant in Johannesburg beklink. (Foto: Verskaf)

Daar word dikwels gesê dat ʼn goeie, gesonde vel goud werd is.

Daarom het die skoonheidshuis Elizabeth Arden besluit om dié weelderige mineraal as inspirasie te gebruik en ʼn nuwe goue standaard te probeer stel vir velversterking met die bekendstelling van hul Advanced Light-keramiede-kapsules.

Keramiede is deesdae ʼn gonswoord in die velsorgindustrie, maar dié skoonheidshuis het reeds in die 1990’s ʼn deurbraak in teenverouderingstegnologie gemaak met hul nou kenmerkende keramiede-kapsules, wat elkeen ʼn enkeldosis gesigserum bevat.

Maroela Media het vroeër berig dat hierdie sogenaamde “wonderbestanddeel” ʼn natuurlike lipiede is wat ʼn kritieke rol speel in die handhawing en herstel van ʼn gesonde beskermingslaag vir jou vel. Dit bied boonop voordele vir alles van teenveroudering tot bevogtiging.

Elizabeth Arden het besluit om nou vir hul keramiede-kapsules ʼn nuwe glinsterende baadjie aan te trek en hulle span het die Goudstad sy bynaam behoorlik laat verdien met die Suid-Afrikaanse bekendstelling daarvan.

Media, bekendes en beïnvloeders het Maandagaand in Sandton, Johannesburg, saamgetrek om dié jongste toevoeging tot die Elizabeth Arden-kapsulefamilie by die Alto 234-restaurant, die hoogste stedelike kroeg in Afrika, te beklink.

Die radiopersoonlikheid Bridget Masinga het as gasvrou opgetree en alles, van uitrustings en drankies tot die sonsondergang, het in goud geglinster.

Gaste is met hul aankoms genooi om hul gesigte met goue gesigverf te versier en die luukse Leonardo Hotel, wat Alto 234 op sy dak huisves, is ook in goud “gedrapeer” danksy goudgeel ligte wat dié wolkekrabber behoorlik opgehelder het.

Dié goue kapsules ideaal vir olierige velle

Keramiede is steeds die “goue bestanddeel” in dié nuwe kapsule, maar is nou volgens Elizabeth Arden ideaal vir gekombineerde en olierige velle. Dit word vinnig in die vel geabsorbeer danksy hul ligte formule.

Boonop help die kragtige kombinasie van verskeie keramiedes en peptiedes om velversperring te versterk, porieë te verfyn en die vel se beskermingslaag, wat veral in kouer maande maklik vog verloor, te voed.

Hierdie produk is nou aanlyn en by vooraanstaande apteke en winkels landwyd beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.