Haarkapper se goue reëls vir gesonde kopvel, glansende haarkleur

Elana Janse van Rensburg, ʼn haarstileerder met meer as 14 jaar se ervaring. (Foto: Verskaf)

Daar word gesê ʼn vrou se kapsel is soos haar alledaagse kroon, maar ongelukkig speel gejaagde oggendroetines, finansies en selfs ons gemoedere dikwels ʼn groot rol in die stilering en instandhouding van ons hare.

Elana Janse van Rensburg, ʼn haarstileerder met meer as 14 jaar se ervaring en eienaar van His and Her Co-haarsalon in Pretoria, sê daar is egter drie goue reëls wat elkeen kan volg om ʼn gesonder kopvel, glansende haarkleur en ʼn vars geblaasde voorkoms te handhaaf.

1. Gehalte (maar nie noodwendig peperduur) produkte ʼn belegging

Volgens Elana loop die salon en tuisversorging van jou lokke hand aan hand.

“Party kliënte betaal derduisende rande by salonne, maar is nie bereid om dieselfde belegging met hulle haarversorging tuis te maak nie. Dit breek my hart as ek sien hoe vroue by my salon uitstap met die mooiste hare wat met gehalte produkte gestileer is, en ek weet vir ʼn feit sy gaan dit nou met goedkoop sjampoe was.

“Dit is net so goed jy was jou duurste kledingstuk met Handy-Andy, wie sal dit nou doen?” terg sy.

Elana benadruk dat ʼn produk se prys nie noodwendig sy waarde bepaal nie, maar dat kliënte hul haarkapper advies oor die regte produkte vir hul haartipe en -kleur moet vra, veral as dit van gewone winkelrakke gekoop word.

“Gehalte tuisprodukte verseker ook dat jy meer waarde vir jou duur salonbehandeling gaan kry. Veral blondines of vroue met rooi hare moet die korrekte produkte gebruik om hul haarkleur se langdurigheid te verseker.”

(Foto: Nataliya Vaitkevich/Pexels)

2. Gesonde kopvel is gelyk aan gesonde kapsel

“Ek dink ʼn algemene fout by vroue met veral lang hare, is oormatige sjampoegebruik. Hulle fokus daarop om hul hare te was en nie noodwendig hul kopvelle nie,” verduidelik Elana.

Sy moedig vroue aan om aandag aan hul kopvelle te gee en genoeg sjampoe direk daaraan aan te wend.

“Onthou dat opknappers (conditioner) verkieslik op die punte of ‘poniestert’ gedeelte van die hare aangewend moet word eerder as die kopvel. Die meeste opknappers kan jou hare vinniger olierig maak en laat jou hare swaar voorkom as jy dit direk op jou kopvel gebruik.”

Sy sê die regte was- én droogblaasgewoontes is broodnodig om jou kopvel gesond en gelukkig te hou.

“Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om so gou as moontlik jou hare droog te blaas om ʼn olierige kopvel te voorkom nie.”

Volgens Elana kan klam kopvelle lei tot irritasie, skilfering of selfs onaangename kopvelreuke.

“Deur selfs net jou kopvel droog te blaas voor jy gaan slaap met die idee om jou hare die volgende dag te stileer of net vas te maak, sal die toestand van jou kopvel verbeter en boonop jou haargroei bevorder.”

Dít is ook volgens Elana waarom salon “blow waves” langer hou.

“Ja, ons was en spoel jou hare op die korrekte manier met goeie gehalte produkte, maar die belangrikste van alles is dat jou hare dadelik drooggeblaas word.”

(Foto: Cottonbro Studio/Pexels)

3. Goeie hittebeskerming ononderhandelbaar

ʼn Gebrek aan goeie hittebeskerming is volgens Elana ʼn groot sondebok vir gebreekte, droë hare en kan selfs jou haarkleur affekteer.

“Die meeste haardroërs, -ysters of tange bereik min of meer 190 °C. Jy bak dan nie eers ʼn koek in ʼn pan sonder om ʼn beskermende laag in die pan te spuit wat die koek mooi laat uitkom en die pan beskerm nie, hoe kan jy nie jou hare teen sulke hoë temperature wil beskerm nie?”

Benewens die handhawing van gladde, vogtige hare, sal die regte hittebeskerming ook jou haarkleur volgens Elana varser laat lyk.

“Deur nie ʼn hittebeskermer te gebruik nie, brand jy jou hare basies in ʼn warmer skakering in. Blonde hare kan vinniger geel word en ander skakerings kan vinniger valer raak. Elke kliënt se hare is uniek, so jou stilis weet wat die beste produk vir jou hare sal wees.”

(Foto: Element Digital/Pexels)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.