Hier is vanjaar se grootste lente-modegiere

Vir baie mense is lente hul gunsteling-seisoen – die koue trek weg, blomme maak oop en almal bring meer tyd buite in die vars lug deur.

Modes verander saam met die seisoen en vir baie modebewustes is dit opwindend om nou hul klerekas te kan aanpas met meer vloeiende items, te speel met kleure en patrone, en om nuwe silhoeëtte te ontdek ná die koue wintermaande van jasse en stewels.

Lente se modegiere vloei dikwels oor na die somer, so as jy nou al hierdie items koop, sal jy vir die res van die jaar lyk of jy al maande lank die loopplanke dophou.

Neon

Neon is terug en helderder as voorheen! Helder of neonkleure is beslis een van die grootste neigings vir die lente/somer- seisoen vanjaar. Enige kleur van groen tot oranje tot pienk is in die kol – en selfs beter is as jy van kop tot tone daardie kleur dra.

Neon rok van Superbalist

Pakkies

Bypassende pakkies was al in die winter gewild nadat bypassende sweetpakke ʼn groot neiging was. Dit blyk of dié gier homself net by die nuwe seisoen aangepas het in die vorm van kortbroeke, baadjies en hemde. Winkels is ook vol pakkies waar die broek of romp uit dieselfde materiaal as die hemp gemaak is.

Bypassende pakkie van Cotton on

Wit rok

ʼn Vloeiende lang wit rok skep ʼn moeitelose gevoel. Die neiging is om ʼn eenvoudige wit rok te dra – dit kan óf tot op die vloer hang óf tot teen jou kuit hang. Die kernwoord hier is eenvoud. ʼn Ligte, dun materiaal, eenvoudige of rougeknipte kante en ʼn rok met ʼn elegante boheemse gevoel is die beste.

Wit rok van Mr.Price

Gehekelde klere

Eens was gehekelde klere net gebruik as ʼn bykomstigheid of iets wat jy op die strand oor jou swembroek sal dra, maar nie meer nie! Gehekelde klere, veral rokke is ʼn groot neiging. Dit pas ook in by die gier om uitgeknipte dele in jou klere te hê. Om gestruktureerde uitknipsels in te klere te hê is al lank ʼn treffer, maar vir die lente sorg gehekelde klere vir ʼn sagter aanslag.

Gehekelde hemp van Superbalist

Bra-hemp

Die bra-hemp is presies soos wat dit klink. Dit is om ʼn bra as ʼn hemp te dra. Winkels verkoop al meer bra’s wat op dié manier gedra kan word, en dit saam met ʼn romp, onder ʼn deursigtige rok, saam met ʼn sweetpakbroek óf saam met ʼn elegante wyepyp-broek gedra word. Die bra-hemp is meestal draadvry en eintlik meer soos ʼn bikini-top as ʼn bra.

Bra-hemp van Cotton on

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.