Só lyk ʼn besoek aan ʼn professionele salon

(Foto verskaf deur Isa Carstens Akademie)

Deur Annika Jonker, dosent aan die Isa Carstens Akademie 

Wat is nou lekkerder as ʼn bederfdag by die salon, wat nog te sê van ʼn spa? Vir menigte is hierdie ervaring iets wat hulle net eenkeer in hul lewens beleef, maar dan is daar ʼn groep mense wat hierdie diens as belangrik, verrykend en as noodsaaklike selfsorg sien. Hulle weet ook dat om ʼn salon te besoek nie net oor bederf gaan nie, maar om te belê in jou fisiese en psigiese toekoms.

Mense wat al meer as een salon, kliniek of spa besoek het, sal weet dat nie een besigheid dieselfde is nie. Kom ons haal net gou eers een kopkrapper van die tafel af: salon of kliniek, wat is die verskil? Daar is geen verskil nie. Dis die keuse van die besigheidseienaar watter benaming gebruik word – dus is dit woordspeling wat inpas by die beeld wat die onderneming wil projekteer.

Die spa- en velsorgbedryf is tot vandag toe een van die vinnigste groeiende bedrywe wêreldwyd, en word daagliks deur ʼn verskeidenheid kliënte ondersteun. Alhoewel sommige dienste wat in salonne en spa’s aangebied word kan oorvleuel, bied elkeen ʼn unieke ervaring vir klante. Spa’s en salonne verskil soms dramaties van mekaar, en dit is belangrik om die ooreenkomste en verskille tussen die twee te verstaan om vir jouself die regte keuse van behandeling te maak. Vra gerus, terapeute verduidelik en vertel graag!

Maar wat behels ʼn besoek aan ʼn professionele salon, spesifiek? Eerstens, ʼn professionele salon bied ʼn verskeidenheid behandelings aan wat jou van kop tot tone kan bederf. ʼn Salon bied nie waterbehandelings met fasiliteite soos ʼn verhitte swembad, sauna, stoomkamer, warmbaddens of hidroterapiekamers in nie – dit gaan jy by die spa vind. Tweedens, ʼn professionele salon sluit nie noodwendig die mediese estetiese behandelings in nie, dus moet jou rede vir jou besoek eers uitgepluis word om te verseker dat jy by die regte salon is.  Die professionele, goed opgeleide terapeut behoort met ʼn paar vrae vir jou dié antwoord te kan gee.

As dit jou eerste keer by ʼn salon is, is daar ʼn paar leidrade waarna jy kan soek om jou die rustigheid te gee dat jy in goeie hande gaan wees.

Jy word ontvang soos ʼn bekende kennis; die ontvangspersoneel groet jou met ʼn glimlag en bevestig jou naam en die behandeling(s) waarvoor jy die afspraak gemaak het. Daarna word jy na ʼn gemaklike sitarea vergesel waar jy dan jou kliëntekaart sal invul. Geen salon wat sy sout werd is bestuur die onderneming sonder kliënterekords nie. Dit is nie net ʼn toestemmingsvorm nie, en dit is nog minder net ʼn opsomming van jou mediese geskiedenis.  Die kliëntekaart is die roetekaart wat die terapeut gebruik om jou veilig tot by jou bestemming te bring – die rede waarvoor jy daar is.

(Foto verskaf deur Isa Carstens Akademie)

ʼn Groot verskeidenheid behandelings kan aangebied word, en kan wissel van ʼn gewone of gespesialiseerde manikuur en/of pedikuur, gesigsbehandelings teen veroudering, velprobleme en vlekkies, chemiese afskilfering, lyfmasserings, kopmasserings, lyfpolitoer en lyfmaskers, en nog vele meer!  Behandelings is resultaatgedrewe en fokus daarop om die unieke kondisies van elke kliënt te behandel – of dit nou ʼn velkwaal is, ʼn kopseer, ʼn slapelose nag of net eenvoudig moeg wees van rondhardloop.

So wat nou? Die terapeut wat vir jou verantwoordelik is, sal jou na die behandelingskamer vergesel en eers ʼn gemaklike gesprek met jou voer om te verseker dat die inligting op die kliëntekaart alles korrek en volledig ingevul is. Die terapeut moet seker maak dat jou doel vir die dag bereik kan word – en daarom moet dit goed deurdink word. Die terapeut gaan dan vir jou ʼn duidelike plan gee wat vir die dag se behandeling gevolg gaan word.

Alle behandelings begin met ʼn analise, hetsy gesig, lyf of tone, van die area waarop gewerk gaan word. Die inligting word op die kliëntekaart bygevoeg vir rekordhoudingsdoeleindes, om vordering met toekomstige behandelings aan te teken, tuisprodukte aan te teken, en enige gebeurlikhede te vermeld. Hierdie kaart is waardevol vir ʼn terapeut wat ʼn paadjie saam met ʼn kliënt wil stap!

(Foto verskaf deur Isa Carstens Akademie)

Die terapeut in ʼn professionele salon sal toegang hê tot kwaliteitprodukte, masjiene en toestelle wat aangewend word om die kliënt se kwellinge aan te spreek. Die terapeut gaan altyd tuissorgprodukte aanbeveel met bestanddele wat die beste resultate sal gee. Ja, ʼn terapeut wat nie ook die rol van opvoeder insien nie, gaan nooit die volle doel saam met die kliënt bereik nie.

Wanneer jou kuiertjie klaar is, neem een groot asemteug en blaas dit rustig uit voor jy by die deur uitstap, jou battery is weer gelaai!

Skoonheid kan ʼn opwindende loopbaankeuse wees

In die verlede was daar nie vir jongmense in die skoonheidsbedryf baie opsies om te oorweeg nie en die beroep het hoofsaaklik gefokus op skoonheidsbehandelings wat na die kliënt se basiese versorging en voorkoms omgesien het.

Gelukkig het die bedryf ook gegroei en word daar nou nie meer net op praktiese opleiding gefokus nie, maar ook op die akademie en teorie, insluitend besigheidsbestuurvakke om entrepreneurskap aan te moedig.

Waar kan ek in dié rigting studeer?

Isa Carstens Akademie is in 1978 gestig, en met 44 jaar in die bedryf is dié Akademie Suid-Afrika se mees gerespekteerde en gesogte skoonheidsakademie. Isa Carstens Akademie se kursusse is geakkrediteer deur die Raad van Hoër Onderwys en het kampusse in Pretoria en Stellenbosch.

Die Akademie bied die volgende kursusse aan:

Akkommodasie is op albei kampusse beskikbaar.

Besoek die Isa Carstens Akademie se webwerf en volg hulle op sosiale media vir meer inligting en woon een van die opedae by. Beperkte plekke is steeds beskikbaar vir 2023-aansoeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.