Vyf wenke vir mooi alledaagse grimering

(Foto: Unsplas/Element5 Digital)

Grimering hoef nie moeilik te wees nie, en dit hoef ook nie ure uit jou dag te neem nie.

Sian Bianca Moss, ʼn professionele Suid-Afrikaanse grimeerkunstenaar en verspreider van Viva La Diva-grimering, deel haar gunsteling-wenke vir foutlose grimering vir jou daaglikse roetine.

Wenk 1: Kleur jou wenkbroue in

Begin deur klein, sagte strepies te trek om jou wenkbroue in te kleur. Doen dit saam met die natuurlike vorm van jou wenkbroue; moenie probeer om ʼn totale ander vorm te skep nie.

Potloodstrepe alleenlik kan onafgerond lyk, so gebruik ʼn poeier oor die potlood om die kleur te verskerp en om ekstra dikte aan die wenkbroue te gee.

Voltooi jou wenkbrougrimering deur ʼn wenkbrou-waks te gebruik.

Wenk 2: Moenie die set-sproei vergeet nie

Wend set-sproei aan nadat jy jou grimering gedoen het om dit in plek te hou. Jy kan ook dié sproei gebruik om op jou grimeersponsie of -borsel te spuit voordat jy onderlaag aanwend. Dit sal verseker dat jou onderlaag meer egalig aangewend word, terwyl dit ook in plek gehou word.

Wenk 3: Dubbele gebruik vir een produk

ʼn Dun wenkbrou-potlood kan ook as oogpotlood gebruik word. Gebruik ook gerus jou gunsteling-lipstiffie liggies op jou wange vir blosser, óf gebruik jou blosser as oogskadu.

(Foto: Unsplash/Raphael Lovaski)

Wenk 4: Gebruik twee skakerings lipstiffie

Skep die illusie van plomp lippe deur ʼn donkerder kleur lipstiffie in die hoeke van jou mond en die kante van jou lippe te smeer en gebruik dan ʼn ligter kleur in die middel van jou lippe. Só skep jy dimensie.

Wenk 5: Wend blosser soos ʼn kunstenaar aan

Blosser kan jou onmiddellik minder moeg en meer afgerond laat lyk. Wend ʼn room-blosser aan die appels van jou wange aan. Glimlag om dit aan te wend en meng dit uit na buite. Gebruik genoeg van die produk om seker te maak die kleur staan genoeg uit.

Gebruik nou ʼn poeier-blosser om die blosser te set. Gebruik altyd ʼn room-produk onder ʼn poeier-produk om die kleur te verskerp.

Vir meer inligting oor Viva La Diva, ʼn veganistiese grimeerreeks, besoek hul webtuiste hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.