Want soms moet iemand jou rug vryf…

Foto: CSpa Wellness

Deur Susan Lombaard

Kort voor ons meisiekind se 13de verjaardag kom daar ʼn lekker pasella oor my pad: ʼn Halfdag-spabederf vir twee mense by CSpa Wellness by Camelot at The Blyde. Ek het hoeka beplan om ʼn dag verlof te neem en saam met haar iets spesiaals te gaan doen. Dit sal wees soos om ʼn splinternuwe vriendin saam te neem, redeneer ek, want die vet weet, die mens wat skielik die laaste paar maande haar intrek in ons huis geneem het, is sowaar nie dieselfde enetjie van ʼn jaar gelede wat net pienk wou dra en nog haar teddiebeer ingepak het as sy by iemand gaan oorslaap nie.

Die oggend van haar verjaardag vat ons die pad om te gaan “ontbyt eet”. Isabel klets niksvermoedend oor ditjies en datjies; salig onbewus van waarheen ons eintlik op pad is. Ek is maar bly sy klets so lekker, want hoe nader ons aan die spa kom, hoe meer doem rillerstories oor spa-ervarings in my gedagtes op. Daar was die keer toe ʼn vriendin my saamgenooi het spa toe vir haar 40ste verjaardag, en die terapeute ons toe met soveel goedbedoelde entoesiasme en intensiteit beetgekry het dat ons drie ure later hinkepink, erg getraumatiseer en met seer lywe en voete daar uit is. Ek het na die tyd sterk vermoed dat hulle hul “kwalifikasies” aanlyn verwerf het.

En dan was daar ʼn ander keer toe ek saam met ʼn groep vriendinne na ʼn spa toe is wat in ou perdestalle op ʼn plaas ingerig is. Dit klink dalk baie romanties en idillies, en die behandeling was… wel, heel lekker. Wat ʼn bietjie vreemd was, was toe ons teen middagete, geklee in skrapse wit handdoekstof-kamerjassies met spa-pantoffeltjies aan ons voete, by die stalle uit beduie is om by die restaurant, tussen hul ander ten volle geklede klante, te gaan middagete eet. Ons was al halfpad oor die grasperk (tussen paartjies en gesinne wat op geruite kombersies langs die dam piekniek hou deur) restaurant toe, toe die volle omvang van die onbenydenswaardige situasie waarin ons is, ons eers tref. Ons het maar toehou-toehou deurgedruk en onsself getroos daarmee dat die ander klante waarskynlik selfs ongemakliker as ons is.

As brandarm studente op Potchefstroom was ons maar altyd te bly as die eerstejaarstudente van die skoonheidsakademie op die dorp ons laat weet dat hulle proefkonyne vir hul praktiese sessies nodig het – dan kon ons gratis gaan vir wakse, masserings, tinte en dinge. Maar ons het gou verstaan waarom ʼn mens net een of twee keer daarvoor val. Almal kan immers nie top studente wees nie, wat ook al die vakgebied, en iemand wat ʼn algemene, desperate boodskap na ʼn dameskoshuis toe stuur dat sy ʼn model vir haar prakties nodig het omdat geen van haar vriendinne “beskikbaar” is nie, is waarskynlik nie onder die top vyf nie. Só is ons elkeen ʼn keer of wat by die skoonheidsakademie se prakties-lokaal uit met skeef geplukte wenkbroue, pynlik gewakste bene en vel-af bolippe voor ons ons les geleer het.

Maar dit daar gelaat – my 13-jarige bons soos ʼn balletjie in die motor langs my terwyl die spa nader kom, en van omdraai is daar nie veel sprake nie.

Foto: Awe Lanie/‎The Blyde Riverwalk Estate, Facebook

En wat ʼn verrassing is CSpa Wellness by Camelot at The Blyde toe nie. Ons word met ʼn koppie rooibostee en ʼn varsgebakte muffin ontvang deur Mabatho Ngoepe en Melody Mukabeta, ons terapeute vir die dag. Dis ʼn koelerige dag in die middel van die winter, maar in die spa is dit knus. Ons verklee in snoesige japonne. Die ligte word gedemp, die klank van dolfyne en walvisse wat onder water met mekaar geselsies maak vul die lug, en van onder ons beddens walm die kalmerende aroma van ʼn oliebrandertjie op.

Die eerste halfuur of wat is my gedagtes klinies besig om feite te versamel – ek moet immers later eerlik kan skryf oor dié bederf-dag. Ek maak ʼn kopnota van die sagte komberse wat om ons bene gevou word, van die temperatuur in die kamer wat net mooi gemaklik is, van die bed se kurwes wat net reg gevorm is om lank te kan lê. Mabatho en Melody beweeg soos skimme om ons beddens. Ná ʼn tydjie begin ek sukkel om te fokus: Is dit twee hande wat daardie seer knoppe in my skouers so lekker uitvryf, of is daar dalk vier? Is sy aan my linkerkant of my regterkant? Lê ek op my maag of op my rug? Ek is seker sy was nou net by my voete besig, maar nou voel ek haar vingers kalmerend in ritmiese sirkeltjies in my hare en nek woel…

Twee ure of wat later – ek weet eerlik nie hoe lank dit was nie – bring die terapeute ons met fluisterstemme terug na die werklikheid. Ons lê nog ʼn rukkie om heeltemal wakker te word en “by te kom”.

Ons word geneem na die voorste deel van die spa vir ʼn pedikuur, waar ons ʼn gedeeltelike uitsig het oor The Blyde se skitterblou mensgemaakte meer terwyl ons knibbel aan wortel- en komkommerstokkies, kaas en soutbeskuitjies. Ek en Isabel is nou ʼn bietjie wakkerder, en gesels met Mabatho en Melody oor waar hulle vandaan kom en studeer het; hul gesinne, drome en toekomsplanne. Wat is vir hulle die lekkerste van die werk wat hulle doen? wil ek weet. Hulle vertel met passie: om mense te kan bederf; om te sien hoe hulle aanraking die spanning uit iemand se skouers laat verdwyn; om ʼn kliënt ʼn bietjie sekerder van haarself ná ʼn skoonheidsbehandeling by die deur te sien uitstap.

Ons ry lomerig en ontspanne huis toe, ek en my dertienjarige meisiekind. Die motor ruik na aromatiese olies en roompies en die wêreld is ʼn goeie plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.