Twee gedigte van die bekende Griekse digteres, Sappho, is onlangs ontdek, en een hiervan het redelik goed op die papirus bewaar gebly.
Sappho is vermoedelik tussen 630 en 612 voor Christus gebore en het teen ongeveer 570 voor Christus gesterf. Die vonds is gemaak toe die eienaar van die stukke papirus onlangs by die Britse kenner van Antieke Grieks, dr. Dirk Obbink van Oxford, gaan kers opsteek het.
Die digvorm, Sapphiese stanza, is na haar vernoem. Sy is deur die Griekse literatore van Alexandrië as een van nege liriese digters aangeteken.
Hoewel sy in die antieke tyd reeds baie bekend was en hoog aangeslaan is, het baie min van haar werke oorgebly, en van die werke word nog periodiek opgespoor, soms in die mees ongewone plekke. Een van die vreemdste ontdekkings was een wat by ‘n liggaam in ‘n Egiptiese sarkofaag gevind is.
Een van die hoofredes waarom haar skryfwerk grootliks verlore gegaan het, is dat dit in die Griekse dialek Eolies geskryf is wat moeilik verstaanbaar was, en reeds in die antieke tyd uitgesterf het. Haar werke is ook minder gereproduseer na die Bisantynse geleerdes dit uit hul leerplanne gehaal het, en dit het eers weer tydens die renaissance gewild geword.
Sappho is van die Griekse eiland Lesbos. Sy is later verban, en moes op die eiland Sisilië gaan woon tot sy later na Lesbos kon terugkeer.
Die stukke papirus waarop die gedigte geskryf is wat nou gevind is, kom moontlik uit Egipte, waar die droë klimaat dit lank sou bewaar het.
Hoofbron: The Greek Reporter