Ten minste 22 mense het sedert die begin van 2012 aan die Suid-Afrikaanse kus verdrink, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) Sondag gesê.
Hierdie getal sluit ses mense in wat steeds vermis word en vermoedelik verdrink het, het woordvoerder Craig Lambinon gesê. Drie mense is ook in ʼn bootongeluk in Bronkhorstspruit oorlede. Die NSRI sê hulle is bekommerd dat die getal gedurende die volgende week kan styg, aangesien mense gewoonlik die meeste uit die laaste week van hul vakansie wil put. “Die volmaan springgety wat die sterkste trekstrome veroorsaak sal tot laat in volgende week nog voortduur en ons maan vakansiegangers om baie versigtig te wees,” het Lambinon gesê.