Die ANC het ʼn foutiewe rekening van die Stad Johannesburg gekry waarin daar beweer word dat die party R3,5 miljoen skuld in uitstaande tariewe, belasting en elektrisiteit.
eNews Channel Africa (eNCA) berig die rekening gedateer 24 Mei 2013 is vir dienste gelewer aan Luthuli-huis, die ANC se hoofkantoor in Johannesburg. eNCA het ʼn afskrif van die rekening op sy webtuiste gepubliseer. “U word hiermee in kennis gestel dat die raad opdrag sal gee om U dienste te beëindig en regstappe sal neem tensy die uitstaande bedrag onmiddellik betaal word,” lees ʼn kennisgewing op die rekening. Keith Khoza, woordvoerder van die ANC, sê die party het ʼn amptelike klag ingedien nadat hulle die rekening ontvang het. “Dit is deel van talle foutiewe rekeninge wat aan inwoners uitgestuur is. Ons weet die Stad Johannesburg het ʼn proses begin om die klagtes aan te spreek. Daar is dalk nog oorblywende rekeninge wat reggestel moet word.” Stanley Maphologela, woordvoerder van die Stad Johannesburg, sê Luthuli-huis se rekening is wel een van die wat maandeliks op tyd betaal word. Hy sê die ANC het die probleem onder die munisipaliteit se aandag gebring en dat dit reggestel is.