Die minister van minerale hulpbronne en die ANC het met skok reageer op Anglo American Platinum (Amplats) se aankondiging dat hy nagenoeg 14 000 mynwerkers gaan afdank.
Amplats het Dinsdagoggend aangekondig dat 14 000 van sy werkers in die Rustenburg-omgewing hul werk gaan verloor. Susan Shabangu, minister van minerale hulpbronne, sê Amplats het haar departement verlede jaar genader en gesê dat hulle probleme in die gesig staar en herstrukturering oorweeg. Sy sê daar is aan Amplats gesê om sulke planne eers met die departement te bespreek. Shabangu sê Amplats se mynregte is in 2010 vir 30 jaar hernieu op voorwaarde dat sy mynprogram ononderbroke was en teen maksimum kapasiteit bedryf word. Die ANC het intussen Amplats se optrede veroordeel en dit beskryf as “sinies en uiters gevaarlik.” Volgens die ANC is “hierdie besluit deel van ‘n strategie deur Amplats om sy besigheid uit Suid-Afrika te stoot en Suid-Afrikaanse myne na die ‘honde’ te skuif.”
Werknemers by die myn het intussen Dinsdagaand geweier om ondergrond te gaan na Amplats se aankondiging. Volgens die werkers sal hulle nie verder werk tot daar met die myn se bestuur vergader is nie.