‘As ek plekke met hom kon ruil, sou ek’

Johan van der Walt (42), ʼn voormalige veiligheidswag, het Maandag in die hooggeregshof in Pretoria getuig dat indien hy kon, hy plekke sou ruil met ʼn 9-jarige seun wat hy vyf jaar gelede doodgeskiet het.

Van der Walt van Bronkhorstspruit is in Julie vanjaar skuldig bevind aan strafbare manslag na die dood van Gift Mokoena in Junie 2007. Van der Walt het ter vonnisversagting aangevoer dat die voorval “nooit moes plaasgevind het nie.” Hy het in trane gesê: “As ek plekke met hom kon ruil. Ek sal dit enige tyd doen.” Mokoena is dood kort nadat hy in die bors geskiet is. Die hof het Van der Walt se getuienis dat hy ʼn waarskuwingskoot afgevuur het op die motor waarin Mokoena gery het omdat hy geglo het hulle was op pad om hom en sy broer te kaap, aanvaar. Van der Walt en sy broer Deon het die aand van die voorval na kabeldiewe gesoek.

Mokoena se pa, Jan, het getuig dat sy seun se dood ʼn ernstige uitwerking op hom en sy vrou gehad het. Hy het verskeie kere van sy werk bedank aangesien hy dit nie kon verdra dat iemand op hom skree nie en dat hy elke keer wat ʼn wit persoon ʼn “slegte ding doen” sy seun se dood herleef. “Hoekom het hy op ons geskiet? As daar ʼn geveg was kon ek dit verstaan maar daar was geen geveg op die pad nie…ek het nooit ʼn woord van hom gehoor om te sê hy is jammer nie.” Mokoena sê hy sal baie gelukkig wees indien Van der Walt die R68 000 wat hy vir sy seun se begrafnis betaal het, aan hom terugbetaal. Vonnisoplegging duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.