Bela: Mense sê ‘nee’, maar ANC stoomroller voort – ACDP

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Niamat Ullah/Unsplash)

Mense het die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (bekend as die Bela-wetsontwerp) in die Nasionale Vergadering (NV) en Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se openbare deelnameprosesse hoofsaaklik verwerp, het die parlement se afdeling vir regsdienste vandeesweek tydens beraadslaging bevestig.

Marie Sukers, woordvoerder van die ACDP, sê hierdie wetgewing, in sy huidige vorm, is deur die meeste Suid-Afrikaners afgekeur. Dit sluit in ouers, godsdienstige organisasies, die burgerlike samelewing, gemeenskapsleiers, tuisskoliere, skoolbeheerliggame en talle ander organisasies.

“Dit is duidelik dat die ANC, met sy meerderheid in die NV en NRP, vasbeslote is om die stem van die Suid-Afrikaanse publiek te verontagsaam en eerder deurdruk met die poging om hierdie gebrekkige wetsontwerp deur te voer,” sê Sukers.

Dit is die grondwetlike plig van openbare verteenwoordigers, op alle regeringsvlakke, om behoorlik ag te slaan op die stemme van die mense – hul besware en voorstelle – in openbare deelnameprosesse.

“Wat ál duideliker word, is dat ANC-LP’s hul grondwetlike mandaat en plig teenoor die mense van hierdie land heeltemal vergeet het,” sê sy.

Die wetsontwerp ondermyn die regte van ouers en versorgers en maak van hulle blote passasiers in hul kinders se lewe, veral wat betref besluite oor tienerswangerskap.

Die departement van basiese onderwys (DBO) se beleid wat in alle provinsies geld, bepaal dat ’n 12-jarige leerder ’n aborsie mag ondergaan sonder die medewete of inset van hul ouers. Sou die wetsontwerp deurgevoer word, word hierdie beleid wet.

Sukers sê die ACDP en lede van die publiek het deurgaans versoek dat die minister die regulasies openbaar maak.

“Ons is almal in die duister oor wat presies hierdie regulasies kan behels en deur wie dit ontwikkel is. Daar is nie gehoor gegee aan hierdie eenvoudige versoek nie. Tog het die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer die voortou geneem met die aanvaarding van die wetsontwerp ondanks die bekommernisse van Suid-Afrikaners en sonder dat enige veranderinge daaraan aangebring is,” sê Sukers.

Sy sê Suid-Afrikaners moet hulleself dus hierdie vraag afvra: “In wie se belang regeer die ANC? Regeer hy in die belang van ouers en kinders, of regeer hy in die belang van eksterne rolspelers?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Papsak ·

Is doodreg mense staan op staan vas want ANC regeer net vir hulle self nie vir julle kinders of vir julle nie hulle doen alles onwettig en wil alles nou so gou moontlik deur druk voor
Verkiesing gee gas asb ANC het net nie ORE nie !!!!!

Hendrik ·

My grootste bekommernis is dat ons kinders oorheers sal word deur vreemde kulture en lae standaarde van beskaafdheid asook die verval van onderwysstandaard. Met n kommunistiese gerigde regering wat gaan die gees en inhoudelke van inhoudsvakke wees. As die voet eers in die deur is gaan sake ingrypend verander.

Anel ·

Is die regering nie daar om te doen wat die mense sê nie? Ons, as belastingbetalers betaal mos hulle salarisse! Ons kinders is ons kinders. Ons versorg hulle. Wie is die a en c om vir ons te sê hoe ons ons kinders moet opvoed? Sovêr ek weet is ons nog in ‘n demokraties bestel. Of altans dit is wat ons voorgehou word!!

skurweberg ·

Beteken dit dat die ANC wette skryf om hulle selfsugtige begeerte vir hulle persoonlike lewensstyle te handhaaf ten koste van die toekoms van die kinders in AFRIKAANSE skole alleen of kinders in die algemeen?

skurweberg ·

Beteken dit dat die ANC wette skryf om hulle selfsugtige begeerte vir hulle persoonlike lewensstyle te handhaaf ten koste van die toekoms van die kinders in AFRIKAANSE skole alleen, of kinders in die algemeen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.