Beskuldigde in Lotter-moord agter tralies

In ʼn dramatiese wending Maandag het een van die beskuldigdes in die Lotter-moordsaak, Mathew Naidoo, sy aanvanklike pleit van onskuldig na skuldig verander voor hy later weer onskuldig gepleit het.

Naidoo (25), sy destydse verloofde, Nicolette Lotter (29), en haar broer, Hardus (23) word daarvan verdink dat hulle laasgenoemde se ouers, Johnny en Riekie Lotter, op 19 Julie 2008 vermoor het. Naidoo het Maandag in die Durbanse hooggeregshof sy pleit na skuldig verander en gesê hy het na die moorde op die Lotter-egpaar gehelp om bewyse toe te smeer. Naidoo het egter volgehou dat hy nie by die moorde betrokke was nie en dat hy net wil hê die saak moet verby wees. Die hof het verdaag om Naidoo die geleentheid te gee om ʼn gedetailleerde verklaring af te lê. Toe die saak hervat is, het Naidoo gesê hy het nie die Lotters se dood veroorsaak nie en meen sy erkenning van skuld behoort nie aanvaar te word nie. Die staatsaanklaer, Sheriza Ramoutha, het gevra dat Naidoo se borgtog van R20 000 herroep word. Naidoo is kort hierna in hegtenis geneem. Nicolette en Hardus het onskuldig gepleit op twee aanklagte van moord. Hulle is sedert die moord agter tralies.

Die hof het onder meer verlede week gehoor mev. Lotter (52) se laaste woorde aan Hardus was “ek het jou lief my seun”. Hardus se pa het ook glo aan hom gesê “moet dit asseblief nie doen nie”, terwyl hy hom met ‘n koord verwurg het. Hardus het hard in die hof gehuil.

Die Lotters beweer Naidoo was die meesterbrein agter die plan om hul ouers te vermoor, dat hy aan hulle gesê het hy is die derde seun van God en dat God die Lotter-egpaar dood wil hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.