Kelly Flynn (21) was onder die invloed van alkohol toe sy in die olifant-kamp by ʼn dieretuin in Colorado, Amerika beland het. Die sekuriteit was besorg dat sy deur die elektriese heining geskok is.
Flynn was Maandagaand saam met ʼn groep mense wat die Denver-dieretuin se jaarlikse Kersliggiefees bygewoon het toe sy afgedwaal het, berig KUSA-TV.
Sekuriteitswagte het haar binne die olifante se kamp aangetref waar sy naby aan die elektriese heining gesit het. Die wagte was bekommerd dat sy dalk teen die heining geskok het.
Maar toe nooddienswerkers opgedaag het, het hulle bepaal Flynn is “uiters besope” en nie deur die heining geskok nie.
Sy is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem waar sy na verwagting sal aansterk.
Die polisie het haar later van betreding aangekla. Beamptes van die dieretuin het gesê daar was in daardie stadium geen diere in die kamp nie.