Bielie Bulls eindig Stormers se wenlopie

Kurt-Lee Arendse op die voorvoet. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls het vanaand op Loftus Versfeld bewys dat ʼn klappende Stormer-weerligstraal nie sommer vir die agtste keer dieselfde uitslag kan hê nie.

Die Pretorianers het die Kapenaars met 40 – 22 in die Jakarandastad oorrompel om sodoende die besoekers se tweestrydwenlopie van sewe oorwinnings tot ʼn einde te bring.

ʼn Elektriese storm het afskoptyd weliswaar met ʼn uur aangeskuif, maar daarna het alles seepglad vir die Bulls voor die duisende entoesiastiese toeskouers geloop.

Loftus was uitverkoop en die bal het ongetwyfeld reg vir Jake White se troepe gespring. Hulle het munt uit die Stormers se magdom foute geslaan en hulle was beslis baie hongerder vir sukses.

Johan Grobbelaar het sommer in die eerste minuut van die kragmeting ʼn rolmaalbeweging – waarby omtrent al 15 Bulls-spelers betrokke was – oor die Kapenaars se doellyn afgerond.

Daarna het Johan Goosen se skopvoet die telbord aan die gang gehou en die besoekers moes noodgedwonge opvangrugby speel.

Die Stormers se agterlyn is egter altyd ʼn krag waarmee daar rekening gehou moet word en Ben Loader het die Moederstad-vyftiental se eerste punte aangeteken ná goeie werk deur Leolin Zas en kie.

Tussendeur het ʼn tikkie geelkaartdrama ook tot die opwinding bydra toe die tuisspan se Stedman Gans van die veld gestuur is nadat hy die bal weg van gewillige Stormer-hande geklap het.

Evan Roos het kort daarna die Kapenaars se tweede drie gedruk en teen rustyd was die telling 19 – 15 in die Bulls se guns.

Maar dit was duidelik dat Pretoria se trots met mag en mening dié een wou wen en Canan Moodie het ʼn steekskoppie perfek opgevolg om vir nog punte te sorg.

Selfs toe André-Hugo Venter skaars vyf minute later met ʼn Stormer-drie teruggeslaan het, het die tuisspan nie sy voet van die versnelpedaal gehaal nie.

Embrose Papier het in die doodsnikke die Bulls se vierde drie gedruk en die Kapenaars se wenlopie is met ʼn klinkende oorwinning kortgeknip.

Die Bulls het baie goeie rugby gespeel, maar die Stormers was beslis met tye hul eie grootste vyand op die speelveld. Hul dissipline het gelol en hulle kon net nie die vloeiende spel van vorige wedstryde opdis nie.

Die braaivleisvure gaan vanaand egter lank brand in Pretoria. Die storm het immers opgeklaar.

  • Puntemakers:

Bulls: Drieë: Johan Grobbelaar (2), Canan Moodie en Embrose Papier. Doelskoppe: Johan Goosen (4). Strafskoppe: Goosen (4).

Die Bulls het die Stormers met 40 – 22 op Loftus Versfeld geklop. (Foto: GB Jordaan)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Baie geluk Bulle met jul prag oorwinning, julle het ons ondersteuners weer trots gemaak, dankie, die Stormers stil gespeel, hul was nie op standaard nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.