ʼn Boer wat van poging tot moord beskuldig word nadat hy glo ʼn tiener op sy plaas geskiet het, is Vrydag in die Ladybrand-landdroshof borg van R1 500 toegestaan.
“Motlalentoa Alfred Makoae (53) sal weer op 8 November in die hof verskyn,” het sers. Martin Xuma, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, gesê.
Makoae, wat ʼn plaas op die grens van Lesotho besit, is Woensdag in hegtenis geneem. Hy het glo vyf jeugdiges, tussen 13 en 15 jaar oud, op sy plaas sien jag met stokke en honde. “Die boer het vir hulle geskree dat hulle sy plaas moet verlaat, en hulle het weggehardloop,” het Xuma gesê. “Terwyl hy die seuns weggejaag het, het hy drie skote in hulle rigting gevuur. ʼn 15-jarige is in die rug getref.”
Die seun word steeds in die hospitaal behandel. Die tiener en Makoae is altwee van Lesotho.