Chanelle Henning-moordenaars gevonnis

Gous (links) en Monye tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/SAPA

Gous (links) en Monye tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes/SAPA

Ambrose Monye en Andre Gouws is Woensdag in die Pretoriase hooggeregshof gevonnis vir hul aandeel in die moord van die jong ma van Faerie Glen, Chanelle Henning.

Regter Johann Kruger het Monye en Gouws albei tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Die twee mans het na maande van ontkenning uiteindelik, nadat hulle ‘n paar weke gelede skuldig bevind is, erken dat hulle betrokke was by die 26-jarige se moord. Monye, ‘n voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, het Maandag aan die hof gesê hy is skaam oor sy dade.

Kruger het gesê die moord was koelbloedig en onderduims en dat Henning niks aan hulle gedoen het nie. Hy het gesê hulle het haar vermoor vir geld en dat hul geen berou toon nie. Hy het voorts gesê Gouws se besluit om teen Nico, Henning se vervreemde man wat daarvan verdink word dat hy die meesterbrein agter haar sluipmoord is, te getuig, was vir eie gewin en dat dit nie genoegsame rede vir versagtende omstandighede is nie. Monye se bekentenis dat hy berou het, het ook nie tot versagtende omstandighede gelei nie. Kruger het gesê vir Money was Henning ʼn gesiglose vrou.

Henning is op 8 November 2011 in Faerie Glen doodgeskiet net nadat sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het. Sy en Nico was in daardie stadium in ‘n hofgeding gewikkel oor toesig oor hul seuntjie.

Nico is in Desember in hegtenis geneem kort nadat Gouws, wat eens sy beste vriend was, aan die hof gesê het Nico het hom R1 miljoen aangebied om sy vrou te vermoor. Gouws sê hy het op sy beurt R50 000 vir Monye aangebied om die sluipmoordenaars op te spoor. Gerhardus (Doepie) du Plessis en Willem (Pike) Pieterse, die twee mans wat op ‘n motorfiets verby Chanelle gejaag en haar geskiet het, dien elk 18 jaar tronkstraf uit vir hul aandeel in die moord. Hulle het altwee skuld erken op hul aandeel in die moord.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae