‘n Maatskappy in China beplan om nagenoeg R1.8 miljard te spandeer om ‘n volgrootte replika van die Titanic te bou as die grootste lokmiddel vir ‘n nuwe pretpark.
Die oorspronklike, “onsinkbare” passasierskip het in 1912 ‘n ysberg getref en gesink. Meer as 1 500 mense het gesterf.
Talle mense in China bly gefassineer deur die Titanic, veral ná James Cameron se rolprent in 1997 met Kate Winslet en Leonardo DiCaprio in die hoofrolle, oor die skip.
Seven Star Energy Investments het gesê die replika sal in die pretpark in Sichuan gebou word en sal permanent in ‘n rivier vasgemeer wees, berig die South China Morning Post.
Die replika sal glo ook die ervaring, van hoe dit moes voel toe die luukse skip die ysberg getref het, herskep, het Su Shaojun, uitvoerende direkteur van Seven Star, gesê. Dit is nie duidelik hoe dié dodelike botsing herskep gaan word nie.
Die 270 meter lange skip behoort binne twee jaar gereed te wees vir besoekers.