Doelwagter Williams is Bafana se groot held

Ronwen Williams en Hugo Broos vier fees nadat Suid-Afrika vir die Kaap Verdiese Eilande in die kwarteindstryd van die Afrikabeker geklop het. (Foto: Franck Fife/AFP)

Bafana Bafana het vir die eerste keer in 24 jaar na die halfeindstryd van die Afrikabeker deurgedring toe hulle met strafdoele die wa deur die kwarteindstryddrif getrek het teen die Kaap Verdiese Eilande.

Die telling was 0 elk ná bykomende tyd en doelwagter Ronwen Williams was sy span se groot held gedurende die strafdoelsessie.

Die 32-jarige speler het uiteindelik vier van sy teenstanders se pogings gefnuik en Bafana het die strafdoelstryd met 2 – 1 beklink.

Williams se doelwagterheldedade is ʼn eerste in die toernooi – ʼn mens keer nie sommer vier skerpskutterskoppe op een aand nie.

“ ʼn Paar uur gelede was ek 71 jaar oud; nou is ek 75. Dit was ʼn baie spannende wedstryd – veral wanneer ʼn mens die strafdoele in ag neem,” het Hugo Broos in ʼn onderhoud met eNCA erken.

Volgens die nasionale sokkerafrigter verdien sy span ʼn groot klop op die skouer.

“Ek dink daar is baie mense in Suid-Afrika wat nie in die span geglo het nie, maar ons het in ons vermoëns geglo. Die spelers het geglo dat só iets kan gebeur en ek dink dit is ʼn baie goeie ding vir Suid-Afrikaanse sokker.”

Bafana Bafana speel Woensdag teen Nigerië in een van die halfeindstryde en Broos meen dat sy spelers die buiteperdetiket dra.

Tog beteken dit terselfdertyd dat hulle niks het om te verloor nie en dat hulle met ʼn tikkie meer vryheid teen Afrika se sokkerreuse kan speel.

“Bitter min mense het gedink dat ons tot hier sou vorder en daar is nou baie minder druk op ons. Dit beteken egter hoegenaamd nie dat ons nie in die eindstryd wil speel nie.”

Halfeindstrydbepalings:

Woensdag:

19:00: Suid-Afrika teen Nigerië

22:00: Ivoorkus teen die Demokratiese Republiek die Kongo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.