Drie mense is dood nadat twee voertuie Saterdag in Gauteng reg van voor teen mekaar gebots het.
Volgens Derrick Banks, ʼn woordvoerder van ER24, het die ongeluk op die R23-pad tussen Heidelberg en Standerton plaasgevind.
“ʼn VW Golf en ʼn Nissan sportnutsvoertuig was in die botsing betrokke. Drie insittendes van die Golf was opslag dood. Hul liggame moes uit die wrak gesny word,” het Banks gesê. “Die Nissan se insittendes is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.”
Volgens Banks wil dit voorkom of die ongeluk weens swak sigbaarheid veroorsaak is. Die polisie ondersoek die voorval.