Drie vermeende N4-rowers gevang

Die polisie in Brits het drie verdagtes in hegtenis geneem wat glo verbind kan woord aan die misdade wat sedert Januarie 2012 op die N4 plaasgevind het.

Een van die verdagtes is Dinsdag by Lions Park in Muldersdrift in hegtenis geneem, en twee ander verdagtes is in Majakaneng buite Brits aangekeer, luidens ʼn verklaring van die polisie Donderdag. Tydens die inhegtenisneming het die polisie beslag gelê op goedere wat vermoedelik van die ongelukslagoffers geroof is.

Die drie verdagtes, van Zimbabawe, is tussen 20 en 23 jaar oud en kan moontlik aan talle voorvalle van verkragting en roof verbind word wat op die N4-snelweg tussen Brits en Majakaneng plaasgevind het. In een van die mees onlangse voorvalle was ʼn man van Botswana se departement van vervoer en kommunikasie en sy vrou op pad terug na Botswana toe hul voertuig naby Bokfontein omgeslaan het. Die drie verdagtes het glo agter ʼn bos uitgekom en dit het gelyk of hulle hulp wou aanbied. Die verdagtes het glo die 40-jarige man aangerand en sy vrou om die beurt verkrag. Die paartjie is ook van hul besittings beroof.

Die polisie-ondersoek het bepaal dat die verdagtes die pad met klippe en harde voorwerpe versper en wanneer niksvermoedende motoriste oor dié voorwerpe ry, verloor hulle beheer oor die motor en die verdagtes slaan dan toe op hul slagoffers.

Die polisie het onder andere skootrekenaars, klere, selfone, armhorlosies, rekenaars en buitelandse valuta in die verdagtes se besit gevind.

Die verdagtes sal van die besit van gesteelde goedere, roof en verkragting aangekla word en sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Brits verskyn. Die polisie versoek lede van die gemeenskap wat in dieselfde manier op die N4 aangeval en beroof is om die polisiestasie in Brits te kontak om moontlik hul gesteelde goedere terug te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.