Die liggame van ʼn bejaarde gepaar is in hul huis in Benoni gevind.
ʼn Polisiewoordvoerder, kapt. Alfred Nakana, sê die man en vrou, in hul 70’s, se liggame is Maandag deur ʼn buurman gevind. Hy sê die polisie vermoed dat hulle oor die naweek vermoor is. Die egpaar se huis is in Masefieldstraat in Farrarmere. Nakana sê daar was baie bloed op die toneel. Hy sê die vrou is waarskynlik met ʼn skerp voorwerp doodgesteek terwyl die man glo met ʼn stomp voorwerp doodgeslaan is. Nakana kon nog nie bevestig of daar enigiets uit die egpaar se huis vermis word nie hoewel daar berig is dat hulle motor glo gesteel is. Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.