“Gaan sê vir die slagoffers dit was ʼn publisiteitsfoefie”

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die minister van polisie, Nathi Mthethwa, gevra om vir die slagoffers van plaasaanvalle self te gaan sê dat hulle pleidooi vir sterker polisie-optrede teenoor plaasmoorde maar net ʼn “publisiteitsfoefie” is.

Mthetwa het Donderdagmiddag, by monde van sy woordvoerder Zweli Mnisi, ʼn mediaverklaring uitgereik waarin hy die oorhandiging van 100 slagoffers van plaasmoorde se briewe as sodanig beskryf het. “Ons is geskok en ontnugter oor die minister se reaksie. Die minister het nog nie eers tyd gehad om die briewe te lees nie, toe reik hy al ʼn mediaverklaring uit,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê. Roets het ook sy kommer uitgespreek dat die minister, selfs in sy nuutste mediaverklaring, steeds nie bereid is om te erken dat daar ʼn plaasmoordkrisis in Suid-Afrika is nie.

“Die feite is eenvoudig. Boere word in disproporsionele mate vermoor en daardie moorde gaan dikwels met onmenslike brutaliteit gepaard. Plaasmoorde is ʼn unieke misdaad en boere leef in unieke omstandighede. Dit op sigself regverdig ʼn unieke teenstrategie, net soos wat gedoen is met koperkabeldiefstal, renosterstropery, bendegeweld en geweld teen vroue en kinders. Ons wag in spanning.”

Die polisie voer intussen aan dat geen amptelike vergadering met AfriForum bevestig is nie. “Die deurlopende spottende, aandagsoekery en publisiteitsfoefies ten koste van die werklike misdaadslagoffers dien nie ‘n goeie doel nie. Ons doen ‘n beroep op Afriforum om hulle te weerhou van hul verdelende benadering van rasgebaseerde misdaad. Misdaad raak ons almal, wit of swart, jonk of oud, ryk of arm. Ons bekommernis is om misdaad te beveg, om dit slim en streng te beveg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ebert Terblanche ·

Golda Meir, voormalige Eersteminister van Israel, skryf in haar outobiografie (“My Life”) dat die beweging vir ‘n Joodse staat gedryf is deur die besef dat hulle verdra word in die state waar hulle hulself as minderhede bevind het, maar nie gekoester is nie.

So is daar, terwyl sy as kind in Tsaristiese Rusland grootgeword het, nie staatsgeborgde geweld teen die Joodse minderheid gepleeg nie, maar hulle het selde hulp van die regering gekry wanneer hulle deur misdadigers van hul eiendom verjaag is, aangerand of selfs vermoor is nie.

Met die onttrekking van Brittanje as mandaatowerheid in Palestina in 1948, het hierdie gedagte die Jode in Palestina gedryf om hul eensydige onafhanklikheid van Jordanië te verklaar en hul eie staat in die lewe te roep.

Later skryf Golda dat dit die regte besluit was, want toe Joodse burgerlikes op plase en dorpe deur Arabiese terroriste vanuit Egipte aangeval is, het die Israelse weermag valskermsoldate oor die grens gestuur om die terroriste te onderskep en tot verantwoording te bring.

Dít sê sy is die verskil tussen om deur ‘n ander regering verdra te word en om deur jou regering gekoester te word, want onder die regering van Jordanië, soos in Rusland, Duitsland, Nederland, Frankryk, Romenië, Turkye, Brittanje as mandaatregering en Yemen, sou daar eerder anderpad gekyk word as om ‘n minderheid teen die vergrype van ‘n meerderheid te beskerm.

Sou ‘n Afrikanerregering nie reeds lankal die plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad verklaar het nie? Daar kan geargumenteer word dat die Suid-Afrikaanse meerderheidsregering ten minste nalatig teenoor Afrikaners gestaan het toe hulle opgehou het om landsgrense te patrolleer, publieke onderwys in duie laat stort het en daarmee enige kans op billike vergoeding vir swartes beëindig het, onrealistiese verwagtinge geskep het, kommando’s ontbind het en die polisiediens tot oneffektiwiteit getransformeer het.

Word ons in Suid-Afrika verdra of gekoester?

Hoe lank sal ons daarmee verlief neem om slegs verdra te word, voordat ons in groot getalle self verantwoordelikheid vir ons toekoms begin opneem en vir onsself ‘n eie ruimte skep?

Dit is ‘n skande dat so baie Afrikaners op Orania neerkyk en weier om hulle te ondersteun, terwyl daardie pioniers hulleself afsloof, gewildheid, gemak en rykdom ontsê in ‘n poging om vir ons ‘n plek te skep waar ons gekoester word.

Brenda ·

Hierdie is vir my sooooo hartseer. Die Afrikaners het die land in goeie werkende toestand met al sy sisteme en infrastuktuur inplek, op ‘n skinkbord aan die ANC oorhandig. Alles, maar alles word tot in die AFGROND IN BESTUUR, OF EERDER WANBESTEEL!!! Ons word in ons eie land misken, verguis, bespot, verkleineer en as aandagsoekers uitgekryt. Dit terwyl ons stelselmatig, een vir een, uitgemoor word!!! Die regering en polisie SAL niks daaraan doen nie, want hulle kamerade doen die vuilwerk vir hulle, deur van die witman in Suid- Afrika ontslae te raak. Sodoende kan alle grond, eiendom, bates en rykdom wat aan die witman behoort???????? aan hulle oorgegee word. En die res van die wereld sluit hul oe en kyk weg. Hulle het in Zimbabwe nie ‘n vinger gelig om die boere te help nie, so hoekom sal hulle dit hier doen??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.