Wat gaan die Reserwebank met die rentekoers maak?

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-02-deur-stevepb-op-pixabay

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Augustus se verbruikersinflasie het goeie nuus vir verbruikers ingehou, maar nog steeds ’n donker prentjie vir die ekonomie geskets. Statistiek Suid-Afrika sê die Verbruikersprysindeks (VPI) het in Augustus op ’n jaargrondslag 4,9% beloop. Dit het in Julie 5,1% beloop.

Die syfer het die mark ontkant betrap omdat dit ’n styging in die VPI-koers verwag het. Die onderliggende betekenis van die VPI-syfer beteken dat die Reserwebank waarskynlik nie Donderdag met rentekoerse sal kan peuter nie.

Die ontleder Wayne McCurrie het op ’n radioprogram gesê daar is duidelik tekens dat vraag van verbruikerskant swak is en dit nie inflasie aanblaas nie.

Boonop het die ekonomie in ’n tegniese resessie verval wat ’n rentekoersverhoging bemoeilik. Hy het daarop gewys dat dit juis toon dat daar geen lewe in die ekonomie is nie.

Volgens Statistiek SA het vervoer-, tabak- en alkohol-indekse gedaal. Die vervoerindeks het egter op ’n jaargrondslag met 9,5% gestyg weens die skerp styging in brandstofpryse sedert April.

Die VPI vir goedere het in Augustus met 5% gestyg. Dit was die skerpste styging vir ’n sektor. Dit is gevolg deur die VPI vir dienste wat ook met 5% gestyg het. Dit was onveranderd sedert Julie.

Op ’n provinsiale grondslag was die VPI die laagste in die Noord-Kaap waar dit 3,9% beloop het en die hoogste in die Wes-Kaap waar dit tot 5,8% gestyg het. Die syfer was hoër as die nasionale gemiddelde VPI.

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee vergader tans voor hy Donderdag sy rentekoersbesluit bekend maak.

Ofskoon die inflasiegegewens die sentrale bank kan dwing om nie met rentekoerse te peuter nie, is daar kommer in markkringe dat die styging in rentekoerse in ontwikkelde lande soos Amerika buitelandse beleggers sal noop om gunstiger rentekoerse na te volg. Die rentekoersverskil kan juis die Reserwebank dalk dwing om koerse te verhoog. Dus, markspelers is onseker oor die rentekoersaankondiging Donderdag.

Om verder vet in die vuur te gooi het Bloomberg berig dat Suid-Afrika waarskynlik ’n rentekoersverhoging moet oorweeg. Dié stap – wat baie ongewild is – is die afgelope maand in Rusland en Turkye ingestel om valuta-onbestendigheid hok te slaan.

Die rand het egter die afgelope week steun gekry. Dit nadat die Turkse lira positief op die rentekoersverhoging gereageer het. En nuus dat Moody’s Investors Services nie nou aan Suid-Afrika se gradering – die enigste positiewe een – gaan raak nie. Die twee ander graderingsagentskappe, Standard & Poor’s Global en Fitch het Suid-Afrika tot rommelstatus gesny.

Volgens Bloomberg is beleggers en ontleders egter verdeeld oor hoër rentekoerse. Hoër rentekoerse  het ontluikende valuta soos die rand ondersteun te midde van een van die kwaaiste finansiële krisisse sedert die 2008-bankkrisis in Amerika.

Valuta-onbestendigheid is grootliks aangeblaas deur Amerika se handelsoorlog met China en sy besluit om hoër tariewe op Turkye te hef.

Intussen het die rand verstewig ondanks Amerika se jongste stappe in sy tariefoorlog met China.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.