Goeie nuus: Nóg ‘n geskiedkundige hartoperasie vir Kaapse dokters

Marianna Cronje Foto: Facebook

Dokters in Kaapstad het ‘n operasie op ‘n 59-jarige vrou uitgevoer wat geskiedenis gemaak het.

Volgens Mediclinic SA het die dokters Saterdag die wêreld se eerste nie-sjirurgiese sluiting van ‘n lekkende hartklep op Marianna Cronje uitgevoer. Cronje is met haar hart in die regterkant van haar bors gebore. “Die prosedure is tegnies uiters moeilik in ‘n pasiënt met normale anatomie, en dit is nog nooit vantevore op ‘n pasiënt, wie se hart aan die regterkant van hul borskas sit, uitgevoer nie,” het kardioloog Hellmuth Weich gesê.

Weich en sy span is deur twee internasionale kundiges van Lausanne in Switserland bygestaan. “Die totale prosedure is deur ‘n naaldprik in die pasiënt se lies uitgevoer,” het Weich gesê.

Cronje, van Stellenbosch, het as kind rumatiekkoors gehad en die afgelope 40 jaar reeds vier opehart-operasies ondergaan. Die laaste operasie het in 2000 plaasgevind.

Toe Cronje se hartklep begin lek het, kon die dokters nie weer op haar opereer nie, en haar toestand het tot só mate versleg dat sy nie meer iets vir haarself kon doen nie.

Weich het verduidelik twee toestelle, wat gebruik word om geboorteafwykings in kinderharte toe te maak, is gebruik om die lekkasie te keer. “Die prosedure, wat ses ure lank geduur het, het baie goed afgeloop en Cronje maak stadig vordering,” het hy bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.