Gr. 7-leerder verkrag, verwurg

(Argieffoto: pixabay)

Die Gautengse departement van onderwys het sy skok te kenne gegee oor die dood van ʼn gr. 7-leerder van Soshanguve wat oor die naweek dood aangetref is ná sy glo verkrag en verwurg is.

Matome Chiloane, Gautengse LUR van onderwys, het die nuus oor die leerder se dood ten sterkste as ʼn voorval van geslagsgebaseerde geweld veroordeel. Die meisie was ʼn leerder by die Echibini Junior Secondary School.

Volgens Chiloane is die meisie Sondag dood ná ʼn aanvaller na bewering deur ʼn venster van haar ouerhuis geklim het. Sy is verkrag en toe verwurg, het Chiloane gesê.

“Daar word beweer dat haar ouers in die ander kamer geslaap het, en eers die oggend besef het wat gebeur het toe hulle haar wou wakker maak.”

Die polisie ondersoek die voorval, sê die LUR.

“Ons is verpletter oor wat gebeur het. Ons wil ons innige meegevoel met die leerder se familie en haar skool betuig. Ons is hoopvol dat die wetstoepassers vinnig sal werk om die oortreder voor die hof te daag.”

Die Gautengse polisie kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.