Hoedspruit-families soek antwoorde, stel private speurders aan

Melané Pretorius, Shaun Pretorius, Ilonka Croucamp, Jaco Croucamp, Mbombela, Hoedspruit, moord, skiet

‘n Huldeblyk aan Ilonka Croucamp. (Foto: Facebook/Melinda Venter)

“Alles is ’n gemors en baie deurmekaar. Ons Kersdag gaan nooit dieselfde wees nie, en al waarvoor ons nou kan hoop, is om antwoorde te kry.”

Só het Jaco Craucamp gesê na sy eksvrou, Ilonka Craucamp (40), se liggaam op Kersdag met skietwonde in ʼn huis in Mbombela, Mpumalanga, gevind is.

“Mense bespiegel en hulle stuur die berigte vir my kinders aan… dit is vreeslik.”

Die huis in Laserstraat in die Steiltes-woonbuurt het aan Shawn Pretorius (47) en sy eksvrou, Melané Pretorius, behoort. Hulle was die eienaars van PostNet op Hoedspruit en ook in Mbombela. Ook hulle was besig om te skei.

Jaco het Donderdag aan Maroela Media bevestig Ilonka en Shawn was in ʼn verhouding.

“Ons was besig om te skei, maar daar was nie kwade gevoelens nie,” het Jaco gesê.

Volgens Jaco was Ilonka ʼn formidabele sakevrou en “iemand wat baie omgegee het vir ander”.

Sy was ook nie lief vir stilsit nie, sê hy. Ilonka was die eienaar van die Luvit-winkel in Hoedspruit, wat geskenke, bykomstighede, skoonheidsprodukte en klere verkoop het. Sy het op 1 November nóg ʼn Luvit-winkel in Witrivier, sowat 20 km van Mbombela, geopen.

Sy was ook lief vir haar perde en ʼn tweededan‑karate‑instrukteur.

Hy het haar as ʼn wonderlike ma vir hul twee dogters, onderskeidelik 13 en 17, beskryf.

“Ek kon nie vir ʼn beter ma vir my twee kinders gevra het nie… niemand sal haar plek by hulle kan inneem nie,” sê Jaco.

Dit is juis die dogters wat op Kersdag die eerste alarm gemaak het.

Melané Pretorius, Shaun Pretorius, Ilonka Croucamp, Jaco Croucamp, Mbombela, Hoedspruit, moord, skiet

Ilonka en haar vorige man Jaco Craucamp. Foto: Facebook/Ilonka Craucamp).

Volgens Jaco was hulle by hom op die gesin se plaas buite Hoedspruit. Hulle het hom kom vra om ondersoek in te stel want Ilonka het nie op hulle Kersboodskappe reageer of hulle gebel om hulle ʼn geseënde Kersfees toe te wens nie.

Jaco het begin navraag doen en Melané gevra om  Shawn te kontak. Ook hy het nie op enige boodskappe of oproepe reageer nie.

Dit is eers later op versoek van Melané wat die Hi-Tech-veiligheidsmaatskappy in Mbombela na die huis is om ondersoek in te stel.

Die polisie is ontbied toe die veiligheidswagte die twee bebloede liggame gesien het.

Franco Swanepoel van Hi-Tech het vroeër gesê ʼn voertuig is voor die huis opgemerk. Van die vensters en ʼn deur was oop, maar die veiligheidshekke was gesluit. “Ons wagte het ingeloer en twee mense gesien wat leweloos op die vloer gelê het. Die polisie is dadelik ontbied,” sê Swanepoel.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die polisie krap nog kop oor die motief en twee moordklagtes word ondersoek.

Volgens Mohlala word niks uit die huis vermis nie en daarom ondersoek die polisie nog nie ʼn klag van huisroof nie.

Volgens Swanepoel was daar inligting ontvang op Oukersdag van inwoners in die omgewing wat skote gehoor het. Dit is egter steeds onseker of dié skote verband hou met die moord op Shawn en Ilonka.

Volgens Jaco het die private speurders reeds die inligting begin opvolg. “Die toneel was baie deurmekaar; almal probeer sin maak van wat gebeur het, maar tussen die polisie se ondersoekbeampte en die speurders is daar nou net die beste mense op die saak. Hulle sal wel die feite opdiep,” sê Jaco.

Melinda Venter, ʼn sakevennoot van Craucamp, het gesê Ilonka was ʼn boorling van Hoedspruit.

“Dit was ʼn eer om saam met haar die winkel op te bou, ek het so baie by jou geleer. Dit was ʼn groot voorreg om die tweede Luvit saam met jou te begin,” sê Venter.

Sy en die res van die Luvit-personeel sal voortgaan met die winkels ter nagedagtenis aan Ilonka. Melinda het ʼn spesiale hoekie in die Luvit-winkels ingerig waar kliënte huldeblyke kon bring.

Melané Pretorius, Shaun Pretorius, Ilonka Croucamp, Jaco Croucamp, Mbombela, Hoedspruit, moord, skiet

Illonka Craucamp saam met haar pa Douw Weideman (72) wat op 17 Desember dood is. (Foto: Verskaf).

“Sy was ʼn werkgewer wat ʼn vriendin geword het. Ilonka sal altyd in ons memories bly.”

Melané kon nie dadelik vir kommentaar bereik word nie. Begrafnisreëlings vir Shawn en Ilonka was nog nie afgehandel nie.

Mohlala het ook Donderdag bevestig dat niemand al in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.