Hyde Park-“rowers” gevang

Drie mans is Woensdagoggend by ‘n woonstel in Hillbrow in hegtenis geneem nadat hulle met gesteelde goedere betrap is.

Kaptein Pinky Tsinyane, woordvoerder van die polisie, het gesê die mans het glo goedere ter waarde van R700 000 uit ‘n paartjie se huis in Hyde Park gesteel. “Die mans het Woensdagoggend deur ‘n venster aan die agterkant van die huis toegang tot die huis bekom terwyl die paartjie geslaap het,” het sy gesê. “Hulle het die paartjie met ‘n mes gedreig, die goedere gesteel en toe gevlug.”

Die polisie is ontbied en hul ondersoek het uiteindelik na dié woonstel in Hillbrow gelei. Die polisie het beslag gelê op skootrekenaars, selfone, reistasse, horlosies en juwele. Die mans, tussen 29 en 38 jaar oud, sal na verwagting binnekort in die landdroshof in Randburg op aanklag van huisroof en die besit van gesteelde goedere verskyn.

Die polisie probeer tans bepaal of die mans aan ander rooftogte in Gauteng verbind kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.