[In diepte] ‘Nie alle Afrikaanse studente kom uit bevoorregte huise’

tuks-afrikaans-geweld

Graffiti op ‘n muur by die Universiteit van Pretoria. Foto: Twitter via @_Dakie

Sedert einde verlede jaar leef Afrikaanssprekende studente onder ʼn swaard van vrees weens die gewelddadige opstande wat die stryd oor hul taal op kampusse landwyd ontketen het.

Nou word die gevoelens oor #AfrikaansMustFall weer eens opgejaag met kennisgewings aan studente aan die Universiteit van die Vrystaat wat dissiplinêr aangekla word oor die geweld in Februarie vanjaar op Shimlapark in Bloemfontein.

Die algemene persepsie, wat deels ook in die media geskep word, is dat Afrikaanssprekende kinders se ouers ryk is en dat dit daarom lekker gaan met dié bevoorregte studente.

In skrille kontras met die lot van talle Afrikaansprekende jong mense en hul oorlewingstryd om hulself akademies op te hef, is die voorbeeld van skatryk anderstaliges se bevoorregte kinders. Voorbeelde hiervan is die seun van Eskom se uitvoerende hoof, Brian Molefe, en die openbare beskermer, Thuli Madonsela, se dogter wat albei met die gewelddadige onrus verbind is. Tydens die onrus is talle kampusse landwyd geplunder en klasse totaal ontwrig.

Midde-in die bekgeveg tussen dr. Piet Croucamp en die bekroonde digter/skrywer/dramaturg Breyten Breytenbach, oor dié se onwrikbare geloof in sy moedertaal, vrees hordes arm en minder bevoorregte Afrikaanssprekende studente dat die kampusgeweld hul laaste en enigste hoop om te studeer vir altyd kan verwoes.

“Dis ʼn oorlogsone! Ek is bang om terug te gaan klas toe,” was die bevreesde en ontnugterde wekroep van ʼn jong Afrikaanssprekende student nadat alle hel op die  Mafikeng-kampus van die Noordwes-Universiteit losgebars het. Miljoene rande se skade is in Januarie vanjaar aangerig toe verskeie geboue tydens die studente-oproer in brande verwoes is.

“Ons is met sambokke en gebreekte bottels uit die klaskamers gejaag. Ek is te bang om terug te gaan,” het hy sy lot desperaat op sosiale media bekla.

Volgens die student se pa was daar geen veiligheidsbeamptes op die kampus in sig toe die geweld losgebars het nie. Iets wat vir hom vreemd is aangesien daar die paar keer wat hy op die kampus was, ʼn sterk veiligheidteenwoordigheid was. Selfs by die hoofingang was daar op die dag van die opstande glo geen veiligheidspersoneel nie.

“Die stakers het die uitgang beset en die hekke toegemaak. My seun het agter ʼn ander student in ʼn groot bakkie gery en die het basies vir hulle ʼn pad oopgery uit die kampus uit. Hy sê hy weet sy lewe was in gevaar en dat dit ondenkbaar is wat sou gebeur indien hulle moes stop. Wel, hy wil nie teruggaan nie. Ek as ouer wil hom ook nie weer in so ʼn situasie laat beland nie,” het die besorgde pa aan Maroela Media verduidelik.

Die Helpende Hand en Rapport Onderwysfonds (ROF) het sedertdien gehelp met die reëlings dat die student sy studies op die Potchefstroom-kampus kan voortsit.

In Pretoria vertel studente ook verhale van vrees en wantroue wat daar nou heers op die Tukkie-kampus sedert geweld vroeër vanjaar ook daar uitgebreek het. Almal met wie Maroela Media gesels het, is minder bevoorregte Afrikaanssprekende studente uit behoeftige huise wat afhanklik is van beurse en lenings om te kan studeer.

“Dis nogal stresvol om te sit en luister na ʼn lesing, en die volgende oomblik storm hulle die klas binne. Ons leef nou konstant in vrees en bejeen ons mede-studente met agterdog. As hulle groepe begin maak, word ons bang,” het ʼn derdejaar B Com-student aan Tukkies vertel. Hy het gevra dat sy naam nie genoem word nie uit vrees vir vergelding op die kampus.

Lanette Nel van die NWU sê sy is ʼn trotse Afrikaanssprekende wat hard moet werk om ’n sukses van haar studies te maak. “Dit is net baie jammer dat ‘my alles’ so maklik van my af weggeneem kan word of skade aangerig kan word,” het sy die toestande beskryf.

Haar ma is ʼn weduwee met geen inkomste nie. Lanette is tans met haar tweedejaar honneurs in onderwysreg en bestuurstelsels op die Vaal-kampus besig. “Net omdat ek wit is beteken nie dat ek maklik gekom het waar ek vandag is nie,” sê sy.

Sy het bygevoeg sy sidder om te dink wat sou gebeur het as die betogings haar navorsing ontwrig het sodat sy ʼn module sou moes sleep. Sy sou nie verder kon studeer het nie, en haar toekoms en drome sou net daar kort geknip gewees het.

“Ek probeer verstaan hoe mense in ander lande smag na die geleenthede en fasiliteite wat ons hier tot ons beskikking het (of gehad het), maar hier word dit as vanselfsprekend aanvaar en alle studente se lewens en pad na sukses word tot stilstand geruk, want – #Afrikaansmustfall…”

Dawynne Lekai wat aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie (KSUT) studeer het aan die begin van die jaar met ʼn skok uitgevind hy kan nie registreer nie omdat hy nog R15 000 agterstallig op sy vorige akademiese jaar was. Sy punte het goed gelyk, maar die toekoms was donker vir hom.

Dawynne het aan Maroela Media gesê hy is toe maar terug na sy tuisdorp, Prins Albert, waar twee weldoeners, “oom Karel en tannie Heleen de Haas”, hulle oor hom ontferm en vir hom “uit die goedheid van hul harte met ʼn gedeelte van die geld gehelp het”.

Dinge het toe vir Dawynne beter begin lyk en hy het onder meer 100% vir wiskunde en 80% vir fisieke wetenskappe behaal.

Toe tref die #FeesMustFall ook sy kampus. “Die vierde kwartaal sou nog veel beter gegaan het as die studente nie begin staak en die eksamens afgestel is nie,” vertel hy. “Dink daardie ouens nou regtig almal wat Afrikaans praat se ouers is ryk? Vir ons met beurse en borge is daar nie ʼn tweede kans nie.”

Lynne Smith is ʼn enkelouer wat as ʼn tweedejaar-onderwysstudent aan die Wellington-kampus van die KSUT swanger geraak het, maar deurgedruk het met haar studies. Sy bly in Ceres en moet elke dag douvoordag met ʼn saamrygeleentheid Wellington toe ry vir haar klasse. Sy kom laataand by die huis omdat sy moet wag vir die ander saamryers wat op die dorp werk.

“Niemand sal verstaan hoe moeg ek is nie. Om ’n ma te wees, in en uit te ry, en boonop saans en snags my seun te versorg, is nie vir sissies nie,” beskryf sy haar studentlewe. Ondanks haar moeilike lewensomstandighede het sy verlede jaar met twee onderskeidings geslaag. Sy is nou besig met haar finalejaar en kan nie wag om te begin skoolhou nie.

“Ek wil deur niemand bejammer word oor my persoonlike omstandighede nie, maar is bereid om daaroor te praat sodat die mense daarbuite kan besef alle Afrikaanssprekende studente het nie skatryk pappies en mammies nie,”  het sy bygevoeg.

Sy en haar broer, Dylan Jansen, studeer met ROF-beurse.

Meer oor die skrywer: De Wet Potgieter

De Wet Potgieter is ʼn ondersoekende navorser en die skrywer van verskeie boeke waarvan een die omstrede Black Widow, White Widow – Is Al Qaeda operating in South Africa? wat verlede jaar uitgegee is. Sy jongste boek, Grusaam, is nou beskikbaar.

Deel van: In diepte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Koos ·

Trots op hulle, dit is hoe die Afrikaans kinders opgevoed is,maak nie saak wat se kleur hulle is nie. Dit is n voorreg om te studeer en nie n reg nie. Diegene wat afbrand, afbreek kerm en kla oor alles is nie rerig so angstig om te leer nie, kan mos n gtaad kry as hulle betoog daarvoor. Tog is daar ook diegene wat met eerlikke bedoelings gaan SWAT en hulle wil ophef uit moeilikke grootword omstandighede aan hulle wil ek net voorspoed toewens en in watter Taal jy ookal opleiding ontvang SA het hulle nodig

Schalk ·

En nie alle Afrikaanssprekende studente kom uit wit huise uit nie.

Otter ·

Het self ‘n kind op universiteit. Ons bars maar om die gelde te betaal al is ons wit en Afrikaans. Beurse vir wit kindrs is maar min. Skoolgeld is vir ons ook baie vir ons ander kinders.

wynand ·

Daar is baie wit gesinne wat nie kan bekostig om hulle kinders te stuur vir studies nie.
Ek kan net nie verstaan waarom die bree swart publiek en Lektore en Politici dink dat die witmense ryk is nie? Dit gaan maar net oor die haat wat hulle vir die wit Suid-Afrikaners het.
Die absolute afguns. Nou wil hulle alles afbreek wat opgebou is en dan is hulle nog steeds nie tevrede nie?
Dit kom al hoe meer en meer na vore. Enige-iets om die wit mense af te takel. Dit is so duidelik.

Han ·

JC, doen wat? Wat moet/kan Afrikaanssprekendes doen, behalwe om eerlik te wees en hard te studeer? Het jý die antwoord?

Sann ·

JC, met wie praat jy? Ek sien nie dat hierdie studente vra om jammer gekry te word nie. Hulle verskuif selfs van kampus om nogsteeds hulle studies voort te sit. Hulle ouers werk self en spaar sodoende ‘n huishulp en tuinjong se loon. Die enigste mense hier wat hul sokkies moet optrek, is dié wat alles verniet wil hê!… En tussen hakies, ons moenie ons jong mense onderskat nie. Al lyk die toekoms hoe donker, die wat in geloof bou sal nie teleurgesteld wees nie. Geloof beteken nie dat slegte dinge nie met jou gebeur nie. Dit beteken dat jy dit nooit Alleen hoef te dra nie.

lettie ·

My opinie is dat dit n stryd tussen EFF en ANC is om stemme te werf en daarom word studente opgesweep. Die ironie is dat daar duisende wit kinders was gedurende Apartheidsjare wie se ouers arm was, nie n huis of n motor kon bekostig nie, wat kosskaarste gehad het. Baie van die onbevoorregte kinders moes werk gaan soek en kon nie verder studeer nie. Malema destabiliseer die land en die ANC skrik nou wakker dis waarom hul op die eentonige deuntjie sing van bevoorregte wittes.

NH ·

Daar is ander maniere om verder te studeer. My kinders doen dit en werk en het geen huishulp nie. Ook geen tuin dienste. Dit gaan rof maar hulle het hulself al goed bewys!

Marous ·

Bitter min se ouers kon dit betaal. Dit was studente lenings en dit moes terug betaal of terug gewerk word. As jy droog gemaak het was jy uit en moes nog steeds betaal. Mense het verbande op eiendom uitgeneem om kinders deur Universiteit te kry. Niks was verniet nie!

Dup du Plessis ·

……kan ek nog iets byvoeg. Duisende Afrikaanse (meestal plaas en platteland) seuns werk op plase in hoofsaaklik die VSA maar ook in baie ander lande. Ek wil ‘n stelling maak dat hierdie seuns gesamentlik al meer hektare grond oorsee bewerk as die RSA se totale aangeplante hektare wat hier beplant word. Hoekom? Want daar is nie werklik ‘n toekoms vir hulle nie en hulle is bereid om te werk vir hul eie saak en belang. Hulle eis nie vergoeding vir geen werk gedoen nie en breek ook nie bates af omdat hulle nie hul sin kon kry nie. Elke mens is verantwoordelik vir sy/haar eie lewe……..ryk of arm………in baie gevalle het mense wat vandag skatryk is baie arm grootgeword en ook andersom……….as mense net oor die mentaliteit kan kom daar altyd iemand anders is om te blameer……..bv. omdat iemand nou 17 kinders het is hy/sy geregtig op 17 HOP huise….terwyl hy/sy dalk net nie kinders moes gehad het nie.

Han ·

Dup du Plessis, ek stem heelhartig met jou saam. Ons het swaar gekry sodat ons kinders kon studeer. Hulle het hard gewerk om hul kwalifikasies te verwerf en het nie blaamverskuiwing gedoen, verwoes of aan die brand gesteek nie. Dít is wat opgevoed beteken.

John ·

Die meeste gegradueerdes in ons land sal in die jare wat kom nie in Suid-Afrika werk kry nie, soos sake nou staan. Die ANC kan of wil nie die vyand identifiseer nie omdat so slu is. ‘n Bietjie hulp met dit of dat, word deur die regering aangegryp omdat geld en kundigheid skort, maar dis eintlik ‘n voet in die deur. Ons gaan mettertyd toegegooi word onder werkers en leerkragte van elders, want Engels word nou die wagwoord. Die aanslag teen Afrikaners het nog altyd ‘n baie meer sinistere ondertoon gehad as bloot die taalstryd of velkleur. Ons word deur die eeue deur mense wat iets in die land vir hulself wil kom ‘gryp’ uitgebeeld as ‘n gevaarlike/onwelkome struikelblok op die weg na die ‘pot goud’ al is die Afrikaner ook hoe arm en versukkeld. Dit is ‘n mode wat bly en die straftaktiek, tipies van boelies.

Oom Kalahari ·

Die blanke se strewe was nog altyd deur om hard te leer, respekteer, reels en regulasies na te kom, godsdientig te kan wees en hard te werk. Daar is sekerlik net ‘n 3-5% blankes wat dalk welgesteld mag wees der goed te ge-erf het of deur harde werk die boonste vlak bereik het, waar daar vandag ‘n meerderheid in anderskleuriges wat met rykdom vereenselwig kan word. Die meerderheid is of middelklas en arm en boet geweldig in om hul kinders goeie opvoeding en studie geleenthede te bied. Hierdie is ‘n stigma wat klou by ander rasse dat die blankes ryk is omdat hul prober om gedurig hulself op te hef deur goeie beplanning en harde werk en beplan vir die toekoms en nie net dink aan voorsiening van vandag nie. Piet kopdoek sal die Afrikaner altyd afbreek en alles negatief teenoor hul uitspreek want hy is nog altyd anti- Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.