Johann Beukes: ʼn Onderhoud voor die dood

Johann Beukes. Foto: Verskaf

Johann Beukes. Foto: Verskaf

Johann Beukes, ʼn bekende sakeman, argitek en reisagent van Bloemfontein, het Maandag in die ouderdom van 66 sy lewe in ʼn kliniek in Zürich, Switserland, met behulp van ʼn genadedood-organisasie beëindig.

Twee weke voor sy dood het sy goeie vriend, Albé Grobbelaar, ’n onderhoud met hom gevoer oor die redes vir sy besluit. Hier volg die volledige onderhoud wat met Grobbelaar se vergunning aan Maroela Media verskaf is.

Die eerste vraag wat onwillekeurig by ’n mens opkom, is wat iemand kan dryf tot by die punt waar hy so ’n ingrypende besluit neem?

Hierdie is sekerlik die grootste besluit wat die omvattendste impak gehad het op myself, my menswees, wie ek is en al my geliefdes om my. Ek het vroeg in my lewe reeds geleer om te cope met uitdagings en pyn. Soos ’n klippie in ’n stil dam [het die pyn] stelselmatig al hoe wyer uitgekring en het die uitdagings ten opsigte van die pynverwerking al groter geword.

Ek het altyd steeds blymoedig probeer soek na ’n uitkoms deur middel van nuwe mediese tegnologie. Ná my laaste bi-laterale handgewrigoperasies in Duitsland het ek tot ’n besef gekom: Ek het in ’n stroomversnelling beland wat maandeliks net gaan vererger ten opsigte van pyn.

Sedert 2013 het ek al hierdie kwelvrae gehad asook die implikasies [van my besluit] vir my gesin wat agterbly. Hierdie kwelvrae het my verhouding met my Hemelse Vader ingesluit, asook wat sy Woord deur die Heilige Gees vir my gesê het. Ek het gewonder hoe [my] geliefdes my besluit uiteindelik sou hanteer en verwerk en hoe om steeds eerbaar situasies te hanteer wanneer jy so ’n groot geheim met jou saamdra.

Vertel my van jou siekte, die operasies oor baie jare, en die pyn?

Dit word eenvoudig die sogenaamde “Beukes-sindroom” genoem. Die kraakbeen tussen al die gewrigte (wat juis daar is om soepelheid en pynvrye beweging van ledemate en die rugkolom te verseker) verweer in jou liggaam, veral sedert puberteitsjare teen ’n onvoorspelbare tempo.

Sedert 1961 het ek bykans 30 impakryke operasies ondergaan. Ek het verskeie rugoperasies gedurende my studente- en opvolgende jare gehad. Gedurende my tweedejaar van argitektuurstudie moes spesiale reëlings getref word weens die feit dat ek ses maande in die Nasionale-hospitaal [in Bloemfontein] op my rug deurgebring het.

Op 31-jarige ouderdom het ek reeds bi-laterale heupvervangings, gevolg deur dié van die skouers, enkels en ’n handgewrig gehad.

Ek het vroeg in my lewe geleer hoe om pyn te kan projekteer deur “mind over matter”. Ek het nooit ná operasies die morfienpompies of pynmedikasie gebruik nie, want ek reageer baie sleg op die meeste pynstillende medikasie. Ek wil glo dat ek ’n baie hoë pyndrempel het.

Gedurende opvolg-handchirurgie in Duitsland in 2012 het ek tydens die operasie ’n hartstilstand gehad. Dit was die opinie van spesialiste dat my liggaam se pyndrempel verby hanteringsvlakke gegaan het. Die pyn wat ek ervaar het was bokant ’n maksimumvlak van 10, dit wil sê onuitstaanbaar.

Johann Beukes. Foto: Verskaf

Johann Beukes. Foto: Verskaf

En die pyn? Dit is iets wat jy tog so goed wegsteek dat dit vir selfs mense wat jou goed ken, eintlik onsigbaar en ondenkbaar is?

Ek sou wou glo dat indien ʼn mens van kleintyd af geleer het om terugslae en pyn te kan hanteer

(dit wil sê om ʼn fighter te wees), genadedood nie vir jou ’n opsie sou wees nie. Gestremdheid, hetsy ten opsigte van mobiliteit, sig of gehoor, is ʼn enorme beperking vir enige mens. Tog kan ʼn sterk gees die verlies aan lewensvaardighede omskep in ʼn wins van lewenservaring.

Eskalerende pyn daarteenoor vernietig lewensvreugde en lewenskwaliteit. Wanneer pyn egter nie gelokaliseerd is in ʼn bepaalde area van ʼn been, of nek of rug of arm nie, maar jou hele liggaam begin binnedring en stelselmatig jou menswees in totaliteit begin aftakel, kan selfs die sterkste wil in die wêreld nie meer die pynvlakke hanteer en verwerk nie.

Ons weet almal dat die dood vir elkeen van ons beskore is. Ten spyte van die feit dat sommige fiks en gesond is, sterf hulle in ʼn fratsongeluk, ander aan kanker of tydens ’n operasie. En te danke aan die mediese wetenskap sterf baie van ons op natuurlike wyse in ’n hoë ouderdom.

Pyn bring ’n mens egter vroeër by ’n ongemaklike kruispad in jou lewe. Sommige van ons leer vroeg hoe om pyn te hanteer en te verwerk; hul pyndrempel is aansienlik hoër as ander s’n.

Ek glo dat ’n mens duidelik kan onderskei tussen bloupyn en rooipyn. Bloupyn kan ’n mens met pynstillers en medikasie redelik beheer en verlig. Jy leer ook hoe om dit te projekteer en te hanteer.

Rooipyn is wanneer jou pyndrempel verby vlakke van 10 in alle areas van jou liggaam voorkom.

Wat is of was vir jou die swaarste in die lang proses om hierdie keuse te maak tot waar jy nou is en waar die besluit finaal is? 

Om eerstens vrede met myself te kon maak. Dit kon slegs plaasvind deur die vergifnis wat ek van Jesus ontvang het. Ná my eie worsteling met al my kwelvrae het ek aan die begin van 2014 my gesin individueel van my voorneme begin inlig.

In hierdie stadium het ek egter nog nie met Dignitas kontak gemaak nie, maar wel uiteraard baie opgelees oor die openbare debat aangaande genadedood, plaaslik en oorsee.

Jy moes uiteraard baie navorsing doen hieroor en oor dit wat by Dignitas in Zürich gedoen word?

Die woord euthanasia (afgelei van die Griekse eu – “goed” + thanatos – “dood”) word in die Oxford Dictionary asook die Universal Dictionary as volg beskryf:

The action of inducing the painless death of a person from motives of compassion; The painless mercy killing of a patient suffering from an incurable and painful irreversible disease.

Op die oomblik is die toepassing van genade-selfdood gewettig in Nederland, België, Luxemburg, Switserland, Mexiko, Duitsland, Japan, Estland en vier state van die VSA (Oregon, Washington, Vermont en Montana). Slegs landsburgers van elk van die betrokke lande word vooraf gekeur en toegelaat, behalwe Switserland wat nie-Switserse burgers in hul program aanvaar.

Oregon en Switserland vereis dat, hoewel ʼn mediese praktisyn die natrium pentobarbital moet voorskryf, die pasiënt die finale stap (toediening) self en onafhanklik moet kan neem.

Interessant is dat van almal wat die sogenaamde groenlig by Dignitas in Switserland ontvang, slegs sowat 11% die finale stap van genade-selfdood enduit voer.

Daar is tans 21 Suid-Afrikaners geregistreer as Dignitas-lede en ek is slegs die vyfde persoon [wat geregistreer het]. Sedert die ontstaan van Dignitas in 1998 het net meer as 2 000 pasiënte hul lewe reeds beëindig.

Ek weet jy sien jouself nie self as ’n aktivis nie, maar jy het tog sterk standpunte oor die mens se reg om onder sekere omstandighede so ’n besluit (oor die waardige beëindiging van sy eie lewe) te neem. Wat is jou siening van die situasie in Suid-Afrika?

Ek glo dat elkeen wat die radikale besluit geneem het deur genade-selfdood as opsie te kies, dit doen omdat hulle hul vereenselwig met die siening:

To live with dignity – it’s your life; To die with dignity – it’s your choice.

Min onderwerpe is so aktueel en in debatte verweef soos deur die voor- en teenstanders van genadedood, ook juis nou hier in Suid-Afrika. Die menslike lewe is onlosmaaklik gekoppel aan die uiteindelike dood. Daarom beteken dit dat die groep wat hul beywer vir die fundamentele reg van die mens om te lewe, onbewustelik ook saamstem dat elke mens die fundamentele reg het om te sterf.

So het die mens ook die uitdruklike reg om te mag kies. Hoewel die bedoeling goed mag wees, het niemand die reg om van iemand te vereis om ʼn lewe van pyn en lyding te leef nie.

Deur Suid-Afrikaners die reg van vrye keuse ten opsigte van genade-selfdood te ontneem, word orgaanskenking ook plaaslik benadeel. Ek sou graag van my organe wou skenk wat dalk iemand anders se lewe kon red of lewenskwaliteit verbeter.

Interessant dat aartsbiskop Desmond Tutu, ná die tragies hantering van Madiba se laaste dae, die volgende opinie huldig: “I have been fortunate to spend my life working for dignity for the living. Now I wish to apply my mind to the issue of dignity for the dying.”

In ons grondwet word daar meer as ʼn dosyn keer na menslike waardigheid verwys. Sekerlik impliseer dit waardigheid in lewe en in dood.

Kan jy die “keuringsprosesse” waardeur jy moes gaan by Dignitas, en hulle hantering van jou as individu, kortliks beskryf? 

Ek het in Augustus 2014 lid van Dignitas geword. Jy kwalifiseer dan eers om aansoek te doen om gekeur te word vir bystand met genadedood. Die keuringsproses is professioneel en jou aansoek word deur ’n paneel van medici, sielkundiges en regslui geevalueer.

Die aansoek bestaan uit ’n motivering waarom jy genade-selfdood oorweeg, ʼn agtergrond van jouself, jou familie en jou beroep, volledige mediese verslae oor afgelope vyf jaar asook jou huidige mediese toestand en verslae oor jou geestestoestand en huidige medikasie.

Indien die paneel jou goedkeur, kwalifiseer jy voorlopig. Dan doen jy formeel aansoek vir die voorbereiding van ’n ondersteunde genade-selfdood.

Eers hierna voltooi jy al die nodige dokumente om te voldoen aan die Switserse regeringsvereistes:

  • Detailinligting oor jou ouers en jou gesin
  • Beëdigde verklaring deur ’n kennis wat jou langer as tien jaar ken
  • Geboorte- en huweliksertifikaat
  • Afskrif van paspoort
  • Panoramiese x-straal van gebit vir identifikasie-doeleindes
  • ʼn Opdrag aan ’n Switserse spesialis om die natrium pentobarbital voor te berei
  • ʼn Dokument waarin jy enige mediese inmenging verbied tydens die selfdoodaksie

Jy moet ook vooraf die Switserse spesialis in Zürich ontmoet en dan ook ʼn tweede opvolgbesoek die dag voor jou D-dag. Sedert my finale datum by die Blauhaus gefinaliseer is, was daar gereelde kontak met Karin, die persoon wat na my belange omsien en behulpsaam is met elke reëling en versoek van my. Dignitas hanteer alle aspekte volgens jou opdrag om dit juis vir jou gesin so maklik moontlik te maak.

Jy is ’n diep gelowige mens. Was dit enigsins vir jou ’n worsteling om hierdie pad wat jy gekies het, te versoen met jou geloof en jou verhouding met God?

Ek glo dit was aanvanklik juis my grootste worsteling. Dit was vir my ʼn geestelike reis oor die afgelope 20 maande waarin ek geleer het om die skuldgevoelens teenoor my familie te hanteer en te verwerk.

My Bybel, wat heel interessant deur my ouers aan my in 1983 geskenk is in ʼn krisistyd in ons gesin, is vol verwysings gedurende my reis deur geloof. Daar is geestelike hoogtepunte, maar ook my woestynervaringe en Getsemané.

My besoek aan Palestina gedurende 2013 was ook ʼn vervulling van ʼn droom wat reeds met my ouers se besoek aan die Heilige Land 60 jaar gelede gevestig is.

Ek het die afgelope 18 maande weer opnuut my Woordtye met die briewe van Paulus deurgebring. Ek het groot rustigheid in my gemoed oor my besluit. Op hierdie stadium dien twee Skrifgedeeltes in Filippense en Romeine as ʼn anker vir my persoonlik en ʼn troos teenoor my dierbare gesin wat agterbly: Vir my was die lewe altyd vrede in Christus, en die sterwe ʼn pynvrye wins.

Twyfel jy nog soms oor jou besluit? Is jy bang vir die dood?

Tog interessant dat mense so dikwels sê ná die afsterwe van ʼn bejaarde persoon ná ʼn periode van laaste lyding: “Dit was ’n goeie lewe en die dood het uitkoms gebring.”

En waarom kan daar in my geval nie ook gesê word nie: “’n Ses en sestigjarige man, wat ’n wonderlike lewe gehad het, se dood het ook verlossing gebring ná erge pyn/lyding.”

Ek het geen vrees vir die dood nie – ek glo dis die voorreg vir elkeen wat glo. Ek beskou my lewe sedert my groot rugoperasie in 1969 as my tweede kans. Ek is innig en opreg dankbaar as ek terugkyk oor die afgelope 45 jaar dat ek so ʼn wonderlike, geseënde en vervullende loopbaan en lewe gehad het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

15 Kommentare

JC Potgieter ·

The Christian worldview reminds us that our life is God’s gift, we have no right to terminate that gift and we have no right to claim an autonomy to even consider doing so. (AL Mohler)

Jammer om te lees van ‘n lewe wat eindig. Nog meer hartseer om te lees hoe die Bybel gebruik word om besluite te regverdig, eerder as die standaard wat ons besluite moet bepaal.

Betzie van Rensburg ·

Jy is net Potgieter en Mohler is net Mohler .

Dirk van Zyl ·

Moet asb nie kommetaar lewer as jy nie in Johann se skoene geloop het nie of deur daai pyn moes gaan nie. Johann was n opregte eerbare man wat nooit sy pyn gewys het nie. As jy hom gevra het hoe gaan dit sal hy altyd vir jou se baie goed en met jou. Dit is tussen God en Johann niemand anders nie maak nie saak wat mense dink nie dit hang nie van hulle af nie . Dit is God se besluit.

Sakkie du Plooy ·

Ek wonder of die God Wie ons dien, en die God vir Wie Johan Beukes lief was, met ‘n glimlag toegekyk het hoe Johan oor jare gely het. Ek dink nie so nie. Ek dink Hy het Johan Beukes met oop arms in sy huis ontvang – om nooit weer pyn te ervaar nie.

Ryna du Plooy ·

Ons salueer Johann, wat met waardigheid gelewe en met waardigheid gesterf het. In lewe en in dood was hy ‘n voorbeeld om na te streef. Niemand het sy pyn en wanhoop geken nie en laat niemand waag om daaroor ‘n oordeel uit te spreek nie. Geniet jou nuwe lewe Johann, ons gun jou dit. sien jou daar.

Manie Wolvaardt ·

Die grootste gees in die kleinste, seerste lyf wat ek geken het. Ek eer jou nagedagtenis; elkeen wat jou intiem geken het, het ongetwyfeld die grootste agting vir jou waardigheid in lewe en in dood.

E.K. ·

Die wat so teen genadedood is – vertel my dan hoe regverdig jul oorloe wat die neem van derduisende lewens is (wat ook deur dieselfde God geskape is en ‘n “gift” is vlg JC Potgieter). En dis nie eers ‘n geval van mense wta jare onder pyn en siekte moes ly nie, dis GESONDE mensew at doodgemaak wor.

Elmarie Hugo ·

Jy was nie net een van die “greatste” argitekte wat ek ooit ontmoet nie, jy was ook een van die “greatste” mense wie ek ooit die vooreg gehad het om te ontmoet! Rus in vrede in ons Hemelse Paleies, Johann!

rarefire ·

Dankie vir hierdie artikel. Johann jy het my antwoorde gegee wat ek vandag nodig gehad het. Ek ly al 31+ jaar aan Rumatiek sedert my tienerjare, wat soveel pyn verskaf soos Johann verduidelik. Dit gee my moed dat daar ‘n uitkoms is en ek nie eenvoudig van swaarkry sal hoef te sterwe nie.
Wat God betref – my verhouding met Hom is so dat ek Hom nie blameer vir my swaarkry nie en Hy my besluit sal aanvaar…
Soos kommentaar hierbo noem – moenie oordeel as jy nie in iemand anders se skoene geloop het nie.

Self beukes lyer ·

Hoe kan julle dit goedpraat, julle probeer God speel, genadedood is moord die pyn is erg ja maar ons kan deur dit kom, en moenie se ek is skeinheilig nie want ek staan gereeld in sy Skoene die Here laat alle dinge toe met ‘n doel

Fanie Hennig ·

Absoluut waar! God is in totale beheer van ons omstandighede. So ‘n persoon moet in smekende gebede gedurig tot God nader om hulp.

Fanie Hennig ·

Geen skepsel het die reg om selfmoord te pleeg. Die ewige hel is so ene se bestemming.

Jaco Breytenbach ·

Hoekom kan net mense wat een of ander vreeslike siekte het vra dat hulle lewe beëindig moet word? Hoekom kan enigeen dit nie doen nie? Nie een van is op hierdie aarde omdat ons dit gekies het nie, en hoekom moet iemand wat, om watter rede ook al, nie hier wil wees nie gedwing word om hier te bly, of dan onder slegte omstandighede moet selfmoord pleeg?
Kom ons hoop daar kom ‘n stelsel waar enigeen kan aansoek doen en na ‘n proses gehelp kan word om die lewe met waardigheid en sonder angs (en sonder ‘n klomp skynheiliges se stigmatisering) te verlaat en onder rustige een vreedsame en liefdevolle omstandighede kan sterf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.