James Scott kyk fyn na die lewe

James en sy vrou Amunda (Foto: Verskaf)

James Scott het vroeg in sy lewe die waarde van goeie sig besef. As 19-jarige student het hy minder as 30 persent sig gehad en daarom moes hy dringend skenker-korneas in albei oë kry indien hy ʼn normale lewe wou lei. ʼn Uitstekende oogspesialis van Bloemfontein, prof. Francois Potgieter, het beide operasies uitgevoer en tot vandag toe maak die skenker-korneas, wat prof. Potgieter met perfeksie ingeplant het, die lewe vir James Scott soveel makliker. Dit was juis prof. Potgieter wat James destyds gegroet het met die woorde: “Dan sien ons mekaar.” Vandag is dit steeds die manier waarop James sy kliënte by sy sielkundige praktyk groet.

Tog is die vermoë om te kan sien, en die vermoë om waarlik dieper te kan kyk, twee verskillende dinge. En dit is juis wat James so goed regkry. Sy fyn kyk na die lewe en na mense het uiteindelik gelei tot die publikasie van ʼn bundel sketse en vertellings waarin hy ook baie biografiese gegewens deel. Dit en brokkies van die verhale van die mense wat by hom kom aanklop vir sielkundige hulp. Met hulle toestemming natuurlik.

James Scott was onlangs in Suid-Afrika vir die bekendstelling van hierdie bundel, Dan sien ons mekaar, wat deur Protea Boekhuis uitgegee is. In die tyd was hy ook saam met Hannes van Wyk op Kwêla se groen bank en hierdie spontane onderhoud het almal wat daarna gekyk het aangegryp. Oral waar die boekbekendstellings plaasgevind het, het daar agterna lang rye mense gewag om tog ook James se handtekening voor in die boek te kry. Tans is Dan sien ons mekaar op verskeie topverkoperlyste.

(Foto: Verskaf)

James en sy gesin, sy vrou Amunda, en vier kinders Eli en Ami, Jimmy en Katie het in 2009 na Australië geëmigreer om in Toowoomba in Queensland ʼn nuwe lewe te begin. Dit was nie ʼn maklike pad nie, vertel James. Vir die eerste ses maande moes hy self antidepressante gebruik om deur die enorme gevoel van verlies te werk.

“Op ʼn dag het ek egter besef: Jy is die pa van hierdie huis en dit kan nie vir jou vrou en kinders goed wees om te sien hoe hartseer jy is nie. Ek het besluit ek moet myself regruk en uiteindelik het dit stadig maar seker beter geraak. Dis eintlik ongelooflik hoe ʼn mens se kop herbedraad kan word. Jy gaan nooit met dieselfde intensiteit rou oor verlies ná ʼn sekere paar maande en jare nie,” sê James. Deesdae is hulle goed ingeburger in Australië maar vir hom bly die verlange na sy mense en Suid-Afrika maar iets wat nooit sal weggaan nie.

Sy skryfpad is ʼn interessante een. Alhoewel Dan sien ons mekaar gebore is uit Facebook-inskrywings waarmee hy ʼn hele paar jaar gelede begin het, is hierdie nie sy eerste publikasie nie. James vertel dat hy as student gereeld moes optree as seremoniemeester by funksies en ook by vriende se troues. Dan was hy altyd op soek na grappe om te gebruik en die humor wat hy in die grapboekies van daardie jare gevind het, het nie regtig aanklank by die jongmense gekry nie. Op ʼn dag het hy aan Charles Fryer ʼn brief by ʼn uitgewery gestuur en vir hom gesê hy wil graag ʼn studentegrapboek saamstel. Tot sy verbasing het hy dadelik die groen lig gekry en hy kon aan die werk spring. Hy het sommer so in sy koshuiskamer briewe gestuur aan studente op ander universiteite, dosente en enigeen wat hy gedink het ʼn bydrae tot hierdie boek kan lewer. Die stories het in briefvorm teruggekom, en dan het hy dit vir iemand gegee om vir hom te tik. Uiteindelik is die manuskrip gepos en die volgende wat hy gesien het, is toe een van die boeke by hom opdaag.

“Hier is ʼn mooi stukkie sinchronisiteit in hierdie verhaal wat ek jou nou vertel het,” sê James dan met ʼn breë glimlag. “In Februarie 2019 sien ek dat Douw Steyn en Frederik de Jager ʼn Afrikaanse skryfkursus op Molyvos, ʼn Griekse eiland, aanbied. Ek besluit om my in te skryf vir hierdie kursus waarvan Marita van der Vyver ook deel is. Toe ek op Molyvos aanland moes ek uitvind dat Frederik de Jager die redakteur van my studentehumor boek was!”

Ná afloop van die skryfkursus het Frederik ook vir James genooi om ʼn bydra te lewer vir die bundel Ver in die wêreld wat hy saamgestel het oor mense wat uit Suid-Afrika geëmigreer het se belewenisse in die buiteland. Tog was dit nou duidelik dat James se Facebook-inskrywings beslis ʼn bundel kon word. Nadat hy in November 2019 die storie van swaer Naap se noodlottige motorongeluk op Facebook gedeel het, het hy onverwags een nag ʼn boodskap van Deborah Steinmar gekry. Sy is ʼn skrywer, resensent en voormalige redakteur by Protea Boekhuis. “Die storie wat jy oor Naap se dood geskryf het, het my so aangegryp. Laat weet my as jy ʼn boek wil publiseer.”

James en sy gesin – Eli, Jimmy, Katie en Ami en Amunda (Foto: Verskaf)

James lag. “Eintlik moet die geboorte van hierdie boek voor die voete van my seun Eli gelê word. Hy het altyd vir my gesê: ‘Pa, jy is die enigste een wat op Facebook skryf waar ʼn mens altyd die Read more-knoppie moet druk. Dit kan nie so aangaan nie. Hou op skryf op Facebook, of publiseer ʼn boek!’ Ek kon nie sy absolute aanhoudendheid ignoreer nie en het langtand begin skryf.” Dan lag James uit sy maag uit. “Al wat ek vir jou kan sê is: Prys Eli!”

James vertel dat hy met elkeen van sy kliënte seker gemaak het dat hulle gemaklik is oor die verwysing na hulle interaksie met hom in die boek. Hy het die name verander maar lag en sê van die Australiërs wou by hom weet of hy nie maar hulle regte name wil gebruik nie. Tog bly dit maar ʼn tameletjie. Daar is heerlike humor in baie van die verhale en James wou nooit die idee geskep het dat hy vir iemand lag nie. Dis ʼn kwessie van saam met mekaar lag, sê hy dan.

Ons gesels oor sy lewe as sielkundige. Een ding waarvan hy nie hou nie, is dat mense met ʼn eerste ontmoeting op ʼn sosiale vlak moet uitvind dat dit sy beroep is nie. Mense verwag dan onmiddellik dat hy hulle gaan analiseer, en dan tree hulle glad nie spontaan en natuurlik op nie, is sy ervaring. Daar is ʼn wonderlike storie in die boek waar hy met sy boot Tula gaan vaar en ʼn paar vissermanne ontmoet. Nadat die een ou hom gevra het wat se werk hy doen, het hy net doodstil gesit en nie gereageer nie. “Ek dink jy’s ʼn dokter. Dalk ʼn ginekoloog,” het die ou toe gesê.

James lag uit sy maag uit oor hierdie voorval. “Watter kompliment het daardie ou my gegee!”

Ons gesels oor die dinge van Suid-Afrika wat hulle daar in die vreemde mis. Dis maar die mense, die kosmopolitiese geure en kleure van Suid-Afrika, sy hartsmense en natuurlik Afrikaans. Tog het die gesin destyds besluit om steeds Afrikaans in die huis te praat.

James Scott se kantoor waar hy sy kliënte sien (Foto: Verskaf)

“ʼn Skryfvriendin het my nou die dag uit die bloute gevra: ‘James, hoekom skryf ons?’ en dit het my nogal aan die dink gesit. Ek het met Amunda daaroor gesels en met allerhande filosofiese dinge na vore gekom. Sy het my net so gekyk en gesê: ‘James, jy skryf omdat jy daarvan hou.’ Ek dink sy is reg. Die grootste rede waarom ek hierdie boek geskryf het, is dat wanneer enige van my toekomstige kleinkinders die boek moet optel, gaan hy of sy baie van hulle ouers verstaan.” Weer ʼn breë glimlag.

Dis tyd vir ʼn laaste vraag, alhoewel daar nog soveel dinge is wat ʼn mens van James Scott sal wil weet. Vir wie skreeu hy met die Wêreldbeker? Suid-Afrika?

Dis asof hy nie kan glo wat hy nou net gevra is nie en die antwoord kom spontaan: “Is the Pope Catholic? Kom die son in die ooste op? Wanneer my Aussie-kliënte by my opdaag nadat ons hulle op die rugbyveld afgestof het, staan ek in die deur van my spreekkamer en sê van daar af aan die een wat sit en wag in die wagkamer: ‘Ons het Australië darem lekker gefrommel!’ Gewoonlik is daar baie verskonings van alles wat Etzebeth of die skeidsregter verkeerd gedoen het, maar dit vat nooit enige van die plesier weg nie. Natuurlik skreeu ek vir die Bokke!”

  • Dan sien ons mekaar deur James Scott word uitgegee deur Protea Boekehuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.