Jong én ou bloed nodig vir Afrikaanse media se voortbestaan

Die joernalis en meningsvormer Heindrich Wyngaard het die paneelgesprek tydens Akademia se joernalistiek-simposium gelei. (Foto: Annette Willemse/Akademia)

Korporatiewe en ekonomiese uitdagings, digitalisering en die juniorfikasie van nuuskantore is volgens kenners uit die Afrikaanse medialandskap van die grootste uitdagings wat dié bedryf tans in die gesig staar.

Daarom meen hulle daar moet ʼn gesonde balans gehandhaaf word tussen dié bedryf se toenemende eise vir jonges met veelsydigheid, maar ook die broodnodige behoud van sy senior kundigheid.

Verskeie mediakenners en joernaliste, onder wie Barnard Beukman, redakteur van Beeld, Kabous Meiring, vervaardiger en regisseur van die aktualiteitsprogram Prontuit, prof. Johannes Froneman, mediakenner en joernalistiekdosent, en Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het Donderdag tydens die private hoëronderwysinstelling Akademia se joernalistiek-simposium in Centurion bymekaargekom om verskeie geleenthede en uitdagings wat Afrikaanse media ervaar, te bespreek.

Volgens Beukman, wat hoofspreker by dié geleentheid was, laat die bedryf se kleiner redaksionele spanne nie meer toe vir joernaliste om hul vaardighede in spesialisvelde te slyp nie.

“Dit het ongelukkig in ʼn tyd gebeur waar ouditeure dikwels die besluite neem en dan word daar gesê om van die ‘ouer mense’ ontslae te raak, want hulle is die duurste. ʼn Mens stel gevolglik alsydige joernaliste (all-rounders) aan wat verskeie stories van goeie gehalte kan skryf.”

Nico Strydom, redakteur by Maroela Media, het hierby aangesluit en gesê hoewel die oordrag van kennis tussen generasies kernbelangrik is, jonger joernaliste van natuur ʼn stappie voor is wanneer dit by tegnologie kom.

“Die jonges is reeds vertroud met baie van die platforms waarop die mediabedryf hom verder wil uitdruk, maar hulle moet natuurlik bereid wees om te leer. Ons stel graag iemand aan wat nie net goeie vaardighede het nie, maar ook leergierig is.”

Pieter Steyn, ʼn senior joernalis by Rapport en inhoudsregisseur van RSG se ontbytprogram Op en wakker, het op sy beurt tydens die paneelbespreking gesê dat die behoefte aan uiters veelsydige joernaliste, “wat alles van skryf, foto’s, video’s en klank” moet bemeester, ʼn direkte gevolg van die migrasie van gedrukte na digitale media is.

“Die digitale ruimte is inhoudshonger, so dit is ʼn uitdaging én ʼn groot geleentheid om hierdie ruimte deurlopend te probeer voer. Tim du Plessis (voormalige redakteur van Rapport) het ook altyd vir ons gesê dat die media soos vrugteslaai moet wees. Jy moet nie net vir die lesers gee wat hulle soek nie, maar ook wat hulle nodig het.”

Pieter Steyn, ʼn senior joernalis by Rapport en inhoudsregisseur by RSG. (Foto: Annette Willemse/Akademia)

Strydom het hierby aangesluit en bespreek hoe stories in die digitale mediaruimte makliker geprioritiseer kan word.

“Omdat ons by Maroela Media deur kommentaar ʼn direkte verhouding met ons lesers het, kry ons vinnig terugvoer. Só weet ons dadelik watter inhoud tref onder ons lesers, wat ons help om ons inhoud te bepaal.”

Oor die “doemprofete” wat gedurig gedrukte media se dae tel, sê Beukman dat sentimente en tendense deurlopend verander en dat dit vir koerante soos Beeld belangrik is om vir al hul lesers, “selfs dié wat elke dag self die blokkiesraaisels met ʼn potlood of pen wil invul en uitknipsels bêre” te dien.

“Netwerk24 se aanlyn joernaliste word steeds deur die gedrukte media gemotiveer. Hulle kyk tog of hulle aanlyn berig óók die volgende dag op die voorblad van ʼn dagblad soos Beeld of Die Burger verskyn,” het Steyn oor die belangrikheid van gedrukte media beaam.

Antoinette Slabbert, ʼn senior verslaggewer by Rapport, het tydens die paneelbespreking gesê joernalistiek is in haar oë steeds die lekkerste werk vir “nuuskierige mense”.

“Joernalistiek is uniek danksy die outonomiese aard daarvan. Jy kan jou neus volg solank jy binne raamwerke gehalte inhoud lewer en uitkomste bereik.”

Slabbert het beaam dat die media ʼn goeie mengsel van jong mense, mense in die “middel van hul loopbaan” en ervare mense as joernaliste nodig het.

Sy het ook gewys op die ingrypende verandering wat kan plaasvind danksy die tipe kwessies en mense waaroor daar geskryf word. “Dis belangrik om altyd respek vir jou leser te hê. Jy het die mag om erkenning aan gewone mense te gee en aan hulle te bewys dat hulle iemand is en iets beteken.”

Beukman het ten slotte opgemerk dat die uiteindelike oplossing vir ʼn volhoubare toekoms in Afrikaanse joernalistiek nie by media-instansies nie, maar eerder by opleidingsinstellings lê.

“Daar is verskeie kwessies in die globale joernalistiek wat nuwe joernaliste opgelei moet word om te kan hanteer. Teoretiese sowel as praktiese opleiding is noodsaaklik vir Afrikaanse joernaliste om gehalte-inhoud te kan skep, want ons het die jonger garde se nuwe stemme en vaardighede nodig, nie net vir aanvulling nie, maar ook balans.”

Akademia bied sedert 2021 ʼn BA-graad in kommunikasie en joernalistiek aan en dr. Alé Steyn, departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia, het tydens dié geleentheid gesê hoewel die bedryf aan’t verander is, dit nie beteken dat akademiese opleiding aan die kortste end moet trek nie.

“Die mediabedryf is onvoorspelbaar met verskeie uitdagings soos digitalisering, finansies, nuwe mediagehore en nuwe maniere om media te gebruik. Dit skep egter ook groot geleenthede en daarom is ons opgewonde om studente te lewer wat hul plek in die werkplek kan volstaan en ʼn sinvolle bydrae kan lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Stem nie saam nie die Afrikaanse media het joernaliste nodig wat die feite gee soos dit is sonder om die waarheid te verdraai en aan te pas om polities korrek te wees of te vrees wat die gevolge gaan wees nie.Die persoon moet ‘n sterk persoonlikheid en vreesloos wees maar die waarheid en.feite gee soos dit is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die wêreld van joernalistiek verander vinnig. Die waarskynlikheid dat koerante oor 10 jaar nog gaan bestaan is bykans zero. Aanlynnuus sal bietjie langer oorleef. Nuwe tegnologie draai die wêreld op sy kop. Dit lyk wel of die professie êrens vasgesteek het en sal blitsvinnig moet aanpas.

Eugene ·

Om vandag n’ joernalis te wees, moet jy oe agter jou kop he. Praat jy die waarheid, word jy doodgemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.