ʼn Loodgieter gaan die hof se hulp inroep nadat hy glo hepatitis opgedoen het terwyl hy aan diens was.
Die vakbond Solidariteit gaan Dinsdag die hooggeregshof in Kaapstad versoek om gelyk te gee dat die loodgieter ʼn hepatitis-virus opgedoen het by sy werksplek, terwyl hy aan diens was.
Advokaat Paul Mardon, hoof van Solidariteit se afdeling vir beroepsgesondheid en -veiligheid, sê dié lid het as ʼn loodgieter gewerk toe hy die siekte opgedoen het.
“Die werkgewer het die saak by die ongevalle-kommissaris aangemeld maar die kommissaris het aangevoer dat hy nie oortuig is dat die lid se siekte in die loop van sy diens voortgespruit het nie,” het Mardon gesê. “Die lid het beswaar gemaak teen die beslissing maar geen beslissing kon hieroor gemaak word tydens die aanhoor van die beswaar nie. Ingevolge die Wet op Vergoeding van Beroepsbeserings en Siektes, moes die voorsitter van die tribunaal wat die beswaar aangehoor het, die saak na die hof verwys het vir ʼn beslissing.”
Mardon het gesê die saak het gesloer en is uiteindelik, ná die uitoefening van druk deur Solidariteit, na die hooggeregshof in Kaapstad verwys.