Die komitee het Donderdagoggend bekendgemaak dat Malema onmiddellik as leier van die jeugliga moet uittree nadat hy die ANC in oneer gebring het en skade aan Suid-Afrika se internasionale beeld aangerig het. Die IVP-jeug sê hy het reeds verskeie kere van te vore gevra vir optrede teem Malema. Die party meen egter daar is nie genoeg gedoen nie. Die ACDP sê die uitspraak is ʼn stuur ʼn streng waarskuwing uit aan die ANC-jeugliga dat swak dissipline nie geduld sal word nie. Azapo se jeugvleuel sê Malema en sy woordvoerder, Floyd Shivambu, se skorsing is “die beste ding nog om met Suid-Afrikaanse jeugpolitieke te gebeur”. Die leier van die Vryheidsfront Plus, dr Pieter Mulder, sê “Suid-Afrika is ʼn beter plek met die verwydering van Malema uit die politieke arena”. Politieke ontleders het intussen ook laat blyk dat hulle beïndruk is met die komitee se besluit. Die burgerregte groep, AfriForum, sê intussen die regerende party moet sterk staan indien Malema appèl aanteken teen sy vonnis. Malema is geskors met volle betaling totdat die appèlproses afgehandel is. Malema was Donderdag in Limpopo waar hy glo ʼn eksamen afgelê het ten tyde van die uitspraak. Hy het 14 dae om teen die uitspraak te appelleer.
Die ANC-jeugliga het intussen aangekondig dat hy reeds ‘n argument gekry het om teen te appelleer rakende die skorsings van sy leierskap. Die sekretaris-generaal van die jeugliga, Sindiso Maqaga, sê die feit dat hulle nie toegelaat is om versagtende omstandighede voor die skorsings aan te voer nie is genoegsame gronde vir appèl. Hy sê dit is ʼn basies reg wat aan enige persoon gebied word wat in enige forum aangekla word. Maqaga sê die jeugliga se uitvoerende komitee sal die naweek vergader om die uitspraak te bestudeer.