ʼn Vermeende reeksverkragter het erken dat hy Louise de Waal Woensdag in Roodepoort ontvoer en vermoor het.
Die waarnemende polissiekommisaris in Gauteng, maj-gen Nobesuthu Masiya, het aan verslaggewers in Johannesburg gesê die man het homself by die Margate polisiestasie in KwaZulu-Natal oorgegee. Masiya sê ao. Peet du Toit, wat die ondersoek na De Waal se ontvoering en moord behartig het, het met die verdagte kontak gemaak deur sy broer en hom oortuig om homself oor te gee. Sy sê die verdagte word met nege sake van verkragting en een van moord verbind. Polisie vermoed die verdagte is die sogenaamde “Sondag-verkragter”. Die “Sondag-verkragter” het verlede jaar na bewering twee skoolmeisies in Pretoria-Wes ontvoer. Die een meisie het glo uit die ontvoerder se bakkie gespring en is dood. Die ander meisie is verkrag. Die “Sondag-verkragter” word verbind met verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp, Potchefstroom, Pretoria en Rustenburg. Masiya sê die verdagte is in 2007 skuldig bevind aan seksuele aanranding en het ʼn opgeskorte vonnis ontvang. De Waal is Woensdagoggend op pad skool toe ontvoer. Die polisie vermoed ʼn verbrande lyk wat Woensdagmiddag op ʼn verlate plaas in Magaliesburg gevind is, is die van De Waal.