Man gee hom oor ná skietvoorval op Roossenekal

Frederick Benjamin Erasmus

Frederick Benjamin Erasmus. (Foto: Limpopo SAPD).

ʼn 22-jarige man van Roossenekal in Limpopo het hom Maandag aan die polisie oorgegee ná hy glo op drie mans losgebrand het.

Frederick Benjamin Erasmus het reeds in die landdroshof op Groblersdal verskyn op aanklag van poging tot moord.

Volgens brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder in Limpopo, hou die klag verband met ʼn voorval verlede Vrydag. Erasmus sou naby ʼn plaas in die omgewing van Roossenekal glo verskeie skote op drie voetgangers afgevuur het.

Volgens Mashaba het die drie mans Vrydag ongeveer 14:00 op Erasmus en sy pa se plaas geloop.

Hulle is toe voorgekeer deur Erasmus en sy pa (die polisie het nie sy naam bekend gemaak nie) en is ondervra.

“Die drie slagoffers, almal mans, het op die plaas geloop toe hulle die eienaar se bakkie teen ʼn hoë spoed na hulle toe sien ry het. Die eienaar wat saam met een passasier gery het, het uit die voertuig geklim en die slagoffers beledig terwyl hy hulle daarvan beskuldig het dat hulle op sy plaas gesteel het,” sê Mashaba.

Erasmus het glo ʼn vuurwapen uitgehaal en na bewering skote in die rigting van die verdagtes afgevuur.

Die mans het in verskillende rigtings gevlug en in die proses het een sy been gebreek.

“Hy het na sy broer om hulp geroep en toe dié aankom, het die slagoffer besef hy is ernstig beseer.  Die twee van hulle het gesien hoe die verdagtes se bakkie verbyry sonder om hulp aan te bied,” sê Mashaba.

Die drie mans het ʼn ambulans ontbied en is na ʼn hospitaal geneem.

Volgens Mashaba het die polisie een leë patroondoppie op die toneel gevind. Die polisie het ook beslag gelê op die vuurwapen waarmee Erasmus glo op die mans geskiet het ná hy hom Maandag aan die polisie by die Groblersdal-polisiekantoor oorhandig het.

Erasmus bly tot Januarie in aanhouding nadat die saak teen hom uitgestel is vir ʼn borgtogaansoek en verdere ondersoek. Volgens Mashaba kan nog verdagtes tot die saak gevoeg word, onder andere Erasmus se vriendin wat glo van nalatigheid verdink word. Sy is glo die vuurwapeneienaar en was die een wat dit in die bakkie gelos het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Marous ·

Wat soek hulle op sy grond ? Elke dag word mense op plase aangeval .

Anon ·

Wat soek hulle op privaat eiendom? Skote is geskiet maar net een leë doppie gevind? Word die drie vir oortreding op privaat eiendom aangekla of moet ons hulle bejammer soda hulle skotvry daarvan afkom?

Di ·

Kan mens hierdie boere kwalik neem dat hulle SO optree? NEE, want ons boere het GROOT TEIKENS geword. Daar word daagliks boere VERMOOR op hulle EIE GROND

Luckykat ·

Daar sal nou hoog en laag gesoek word na redes om die man toe te sluit vir n lang tyd. Moet se, hy het nie te slim opgetree nie, maar ek weet ook dat die boere raadop is met betreding op hul grond.

Karinda ·

Een skoot afgevuur maar die boer bly in aanhouding tot Januarie :-( hoe werk dit, verkragters en moordenaars word op borgtog van ‘n belaglike bedrag onmiddelik vrygelaat , nee wat ons kan net nie wen nie. Beboet die ou maar om hom vir nog ‘n maand in die selle te hou is belaglik.

Duck ·

Nog so jonk en so onnosel om ‘n vuurwapen te gebruik wat nie eens syne is nie.
Vandag moet jy half dood wees voordat jy ‘n vuurwapen kan gebruik, ai ai.

Casper ·

te in hulle rigting afgevuur,maar daar is een patroondopoie op die toneel gevind.Iemand lieg weer kliphard.

Niklaas ·

Iemand gaan sukkel om weer ‘n vuurwapen lisensie te bekom. Maar dis mos waarvoor die kaders mik. Om wapen lisensie aansoeke te laat afkeur.

George ·

@Niklaas, hy moet beslis nie n vuurwapen lisensie kry nie. 1) Was nie sy geweer nie (so onbevoegdheid van die eienaar) en dan 2) net in oopte in te skiet is ook onbevoeg.

George ·

Karinda, jy al gedink hy het borg teen gestaan vir sy eie veiligheid?

Karoo ·

Sjoe…. die jong Man is 22? Hy lyk baie ouer, die Boere is onder baie druk, ek glo daar steek baie meer agter die storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.